
’n Nuwe era is die afgelope week by Graan SA se jaarkongres ingelei met mnr. Jannie de Villiers wat sy pos as die nuwe uitvoerende hoof van die organisasie ingeneem het.
De Villiers, wat die voormalige uitvoerende hoof van die Meulenaarskamer was, het erken dat sy besluit om “aan die anderkant van die draad te beweeg” ’n dapper een was wat hy bly is hy geneem het.
De Villiers sê hoewel hy nie baie van boerdery af weet nie, wil hy graag ’n verskil ten opsigte van die beleidsomgewing maak. “Met die klem wat op produksie gaan lê, gaan die omgewing vir julle beter raak.”
Josef vir die volk
Volgens De Villiers moet produsente en die landbougemeenskap spreekwoordelik die rol van Josef in Egipte vertolk. “Hy was nie seker hoekom hy in Egipte moes gaan sit nie, maar op die een of ander manier het dit so uitgewerk dat hy die visie moes hou om te sorg dat daar kos vir die volk was.”
De Villiers het groot waardering uitgespreek vir die ondersteuning wat hy reeds by die organisasie gekry het.
Onbeskaamd optimisties
Intussen het dr. Kobus Laubscher, die voormalige uitvoerende hoof van Graan SA, in sy uittreerede gesê hy is onbeskaamd optimisties oor die toekoms van die landbou in Suid-Afrika asook in die wêreld. Hy glo dat die sektor ’n groot verskil in die toekoms van die land kan maak.
“Ons moet die Regering help en leiding verskaf om die spreekwoordelike muil wat soms so stadig kan beweeg op die grond en afgepak te kry, want ons weet hoe,” sê Laubscher.
Hy het die landbougemeenskap aangemoedig om nie die werklikheid van ’n landbourevolusie en moontlike voedselvoorraad en -pryskrisis te ignoreer nie en die nodige visie vir oorlewing aan die dag te lê.
Laubscher was die afgelope drie jaar die uitvoerende hoof van Graan SA.
10 Maart 2011