Die verantwoordelikheid vir ’n suksesvolle boerdery nadat grond met behulp van die restitusieproses aan ’n gemeenskap teruggegee is, lê by die betrokke mense, sê die eiendomsvereniging van die Droogfontein-gemeenskap naby Kimberley. Mnr. Ceronio Mogorosi, die voorsitter van die vereniging, sê dié gemeenskappe moet ophou om op die staat te steun.
“Dit is die gemeenskap se taak om die proses verder te voer en ’n sukses te maak; dit is nie die taak van ’n amptenaar by Grondsake om die gemeenskap aan te moedig nie. Ons kan nie bekostig om plase in Suid-Afrika te hê wat onproduktief lê nie. ‘By hook or by crook’, ons moet iets daaraan doen!” aldus Mogorosi.
Kommersiële landbou se taak
Mogorosi meen verder dat kommersiële boere die taak moet kry om te help om opkomende boere in hul distrikte te ondersteun en by te staan met raad en dies meer. Mnr. Andries Wiese, ’n boer en buurman van Droogfontein, werk al sedert 2006 saam met die gemeenskap en Mogorosi sê Wiese se hulp en raad is vir hulle van onskatbare waarde.
“Ek wil net vir hom sê, baie, baie dankie, en moenie ophou werk met ons nie! Hy’s ’n soldaat vir die land, en hy moet die stryd veg tot aan die einde.” merk Mogorosi op.
Wiese tree tans ook as een van die gemeenskap se finansiers op en ’n samewerkingsooreenkoms oor vee bestaan tussen hom en die gemeenskap. Die gemeenskap laat Wiese toe om sy vee op Droogfontein te laat wei en die helfte van die kalwers wat daar gebore word, word die gemeenskap se eiendom. “Die gemeenskap besit tans reeds 200 beeste met behulp van dié ooreenkoms,” vertel Mogorosi.
Die plaas
Mogorosi sê die plaas van 12 000 ha is 28km buite Kimberley langs die Vaalrivier geleë. Sowat 400 ha se geelwortels en beet word hier onder besproeiing verbou. Die gemeenskap het ’n samewerkingsooreenkoms met die groep Try Me, wat ook as hul mentors optree, en die meeste van hul opbrengste word onder dié handelsmerk verkoop.
Sowat 100 ton se wortels en 50 ton se beet word per jaar op die plaas geproduseer.
Die gemeenskap het ook onlangs ’n ooreenkoms met Mainstream Renewable Energy SA aangegaan, waarvolgens ’n solarpark ter waarde van R7,2 miljard op die plaas gebou gaan word. Die park sal sowat 200 megawatt elektrisiteit kan verskaf.
Resultate vir die gemeenskap
Morgorosi sê hulle was baie trots om einde verlede jaar dividende aan die bejaardes van die gemeenskap te kon betaal.
“Ons kon dit dalk nie heeltemal bekostig nie, maar dit was vir ons goed om iets aan ons bejaardes, van wie so baie so lank vir dié plaas gewag het, te kon teruggee. Ons het R500 000 uitbetaal. Ongelukkig is 25% van dié bejaardes nie meer met ons nie, maar hulle kon iets vir hul geskiedenis sien voor hulle oorlede is,” vertel Mogorosi.
Sowat 100 huishoudings is afhanklik van dié gemeenskap. Kyk hier na 'n foto-album van die gemeenskap.
5 April 2011