
Sy gesondheid het die afgelope twee jaar baie versleg en hy het dikwels in pyn verkeer. Ná ’n operasie sowat sewe weke gelede waartydens albei sy bene afgesit is, het hy gister (12 Mei) in ’n hospitaal in Sandton beswyk.
Du Plessis was sedert 1971 lid van die Merino-Landskaap-telersgenootskap en was een van die oudste lede van SA Stamboek.
Hy het op die plaas Verdeeld in die distrik Koppies geboer. Sy pa het in 1957 sy eerste Merino-Landskaap gekoop en was een van die lede wat die genootskap gestig en by Stamboek geaffilieer het.
In Mei 1960 het Du Plessis as ’n jong man met ’n groep Merino-Landskape per boot vanaf Hamburg na Suid-Afrika gereis. Hy was ook langer as 20 jaar lid van die Merino-Landskaapraad en was van 2006 tot 2010 die voorsitter.
Volgens mev. Erna Hattingh, die rasdirekteur, het hy diep spore in die uitbou van die ras getrap.
Hy word deur sy vrou, Jane, seuns, Ben en Wicus, ’n dogter, Elsabé, en hul gesinne oorleef.