
Die avontuur van ’n Hollandse melkboer en sy gesin om ’n nuwe lewe en ’n melkboerdery in Amerika te skep, het in ’n nagmerrie ontaard – oor werkers.
Die gesin Verhaar van Nederland het vasgevang gevoel in die beperkte melkmark in Nederland, en het die besluit geneem om na groener weivelde in Amerika te gaan soek. Hulle het ’n melkboerdery in die deelstaat Michigan aangeskaf en baie hard begin werk, soos Nederlanders kan.
Die boerdery het uitgebrei en hulle melk nou 2000 koeie. Die Amerikaanse owerheid het egter op hulle toegeslaan omdat Meksikaanse werkers na bewering onwettig in hul diens was. Die boer en sy vrou is al twee geboei en in die tronk opgesluit. Een van hul seuns en’n prokureur het tot hul redding gekom.
Die nasleep is dat die Verhaars ’n skulderkenning van $2,7 miljoen (R20 miljoen) betaal het om van dié nagmerrie en ’n uitmergelende hofsaak teen die staat ontslae te wees.
Lees die storie op Boerderij.nl se webwerf en kyk na die video – dis 18 minute lank, maar vertel die hele verhaal.
Bron: Boerderij.nl
8 Maart 2012