
Namibië se gesondheidstatus wat hom in staat stel om vleis uit te voer, is in gedrang omdat van sy buurlande met hul eie gesondheidstatus sukkel. “Dit sal net een glips kos, dan verloor ons daardie voordeel,” het adv. Vekuii Rukoru, voorsitter van Meatco Namibië, op 'n beesinligtingsdag by mnr. Diethelm Metzger van Seeis, gesê.
Die land is boonop die droogste land suid van die Sahara en is geleë in 'n streek waar ander lande beter daaraan toe is. Daarom is dit belangrik dat Namibië soek na mededingende voordele met 'n gesamentlike visie vir vleisproduksie. “Ons moet Namibië as een beesvleisprodusent en waardeketting beskou; 'n eenheid met afdelings. Van die plaas tot by bemarking moet al die belanghebbendes een visie hê en mekaar ondersteun om ons land 'n mededingende voordeel te gee,” het hy bygevoeg.
Dit is iets wat die Suid-Afrikaanse beesproduksieketting nie het nie, want die verskillende belanghebbendes dryf verskillende, teenstrydige agendas. Rukoru het gesê in die Namibiese produksieketting is dit nie so erg nie. “Tog blameer ons mekaar ook as iets in die onderskeie afdelings verkeerd gaan, eerder as om mekaar te ondersteun. Ons moet leer om saam te staan en mekaar te ondersteun.”
In die proses moet hulle behou wat reeds bereik is, soos die goeie dieregesondheidstatus en naspeurbaarheid wat die land in staat stel om internasionaal mee te ding.