Die Namibiese Regering het weens die uitbreking van bek-en-klouseer in die noorde van KwaZulu-Natal sy grense vir Suid-Afrikaanse uitvoer gesluit. Luidens ’n nuusverklaring verbied die land die invoer van diere met gesplete hoewe, vleis of vleisprodukte, melkprodukte, velle, huide en trofeë, ongeag van watter Suid-Afrikaanse provinsie dit afkomstig is.
Die Namibiese ministerie van landbou sê die publiek sal ingelig word oor hoe lank die verbod sal duur. “Die situasie sal gereeld hersien word, en ons sal die publiek inlig soos wat meer inligting beskikbaar raak.”
Ander bepalinge
Die ministerie bepaal ook dat die invoer van diere met gesplete hoewe wat deur Suid-Afrika vervoer is, verbied word. Die invoer van enige vleis of vleisprodukte vir iemand se eie gebruik, hetsy gekook of rou, word ook ten sterkste verbied.
Plase wat vanaf 1 Januarie 2011 diere met gesplete hoewe van Suid-Afrika ontvang het, is onmiddellik onder kwarantyn geplaas sodat die staat se veeartsenykundige diens die diere kan monitor.
Die invoer van kommersiële hitte-behandelde en geblikte produkte van goedgekeurde bronne sal oorweeg word.
Die departement versoek Namibiese boere wie se diere verdagte siektesimptome toon, om dit onmiddellik aan te meld.
3 Maart 2011