Bewerings van ongerymdhede met die handel van speenkalwers uit Namibië na Suid-Afrika het instansies in dié buurland warm onder die kraag vir Agri Inspec.
Die Namibiese minister van landbou is genader vir hulp rakende beweerde ongerymdhede in speenkalwerhandel op die grens, sê die NLU.
Mnr. John Mutorwa, die Namibiese minister van landbou, se hulp is ingeroep oor voortdurende nuusverklarings deur Agri Inspec oor beweerde ongerymdhede in die handel van speenkalwers na Suid-Afrika, sê die Namibiese Landbou Unie (NLU).
In die jongste NLU-nuusbrief sê mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van dié unie, hy het ‘n skriftelike versoek aan Mutorwa gestuur waarin hy vra Agri Inspec sy verslae beskikbaar moet stel sodat die inligting geverifieer kan word. “Dié verslae is tot dusver nog nie bekend gestel nie maar word as basis gebruik om vryelik beskuldigings in die media te maak.”
Verontagsaming van protokol
Volgens Van der Merwe het die minister in sy antwoord dit baie duidelik gemaak dat hy tot dusver nog geen amptelike inligting van Agri Inspec ontvang het nie. “Hy beskou dit as ‘n flagrante verontagsaming van protokolle dat ‘n private organisasie in ‘n ander land beskuldigings in die media kan maak sonder dat die inligting aan die regering bekend gemaak word.”
Die minister het die NLU en die Namibiese Vleisraad opdrag gegee om hierdie verslae voor Dinsdag, 12 Oktober 2010, te bekom. Hy het glo gesê indien dit nie vrywillig beskikbaar gemaak word nie, dié organisasies regsadvies moet inwin om die verslae te bekom.
Geen verdere reaksie in media
Mnr. Sakkie Coetzee, die uitvoerende hoof van die NLU, het ná die uitreiking van Agri Inspec se jongste nuusverklaring gesê die unie het besluit om nie verdere reaksie in die media te lewer oor Agri Inspec se verklarings nie.
Hy het die jongste verklaring, waarvolgens Agri Inspec beweer dat ongerymdhede met die handel van speenkalwers op die grens voortgaan, as ‘n flagrante verontagsaming van die protokol soos in ooreenkoms met die RPO (die Rooivleisprodusente-organisasie van Suid-Afrika) beskryf. Al die organisasies betrokke het by ‘n vroeëre vergadering glo saamgestem oor ‘n sekere protokol rakende die uitreik van nuusverklarings.
Volgens Coetzee het die aantygings tot dusver nog geen arrestasies of veroordelings van spesifieke individue tot gevolg gehad nie.
Namibiese Vleisraad
Intussen sê die Namibiese Vleisraad in ‘n verklaring hy win tans regsadvies in rakende die “vals en misleidende aantygings” wat teen hom gemaak word.
Die organisasie sê ná verskeie versoeke wat aan Agri Inspec gerig is om die bewyse wat hy vir die ongerymdhede en aantygings het aan hulle beskikbaar te stel - sodat dit deur owerhede ondersoek kan word - het Agri Inspec glo steeds nie die inligting aan hulle verskaf nie.
11 Oktober 2010