
Die onlangse debakel met die moeilik haalbare uitvoervereistes van speenkalwers na Suid-Afrika het die speenkalfprodusente van Namibië beslis seergemaak, sê mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Namibiese Lewendehaweprodusente- organisasie (LPO).
Hy sê die rooivleisbedryf in Namibië moet nou beter ontgin word.
’n Kort-, medium- en langtermynplan vir die Namibiese lewendehawe- en vleisbedryf is weer op die tafel om alle bemarkingsmoontlikhede te ontgin en nie net afhanklik van beperkte bemarkingskanale te wees nie.
Dié land se veeboere gee glo ook aandag aan die kwessies waaroor Suid-Afrika bekommerd is.
Volgens Schneider is groter samewerking oor veeartsenykundige sake binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) nodig. “Dit is noodsaaklik vir Namibië se voortgesette uitvoer van rooivleis na ander lande – ook vir Suid-Afrika as hy daarna streef om vleis uit te voer.”
Dié en ander sake gaan in Windhoek bespreek word tydens die Namibiese landbou-unie se kongres op 7 Oktober. Dit word gevolg deur ’n vooruitskouingskonferensie op 8 Oktober en die LPO se kongres op 9 Oktober.
Schneider sê dit was vir die Namibiese boere ’n groot en onverwagse terugslag toe Suid-Afrika die invoer van lewende vee op 1 Mei vanjaar gekeer het. Die nuwe veterinêre vereistes is onlangs deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye opgeskort.
Die SA Voerkraalvereniging (Sava) is klaarblyklik in sy noppies omdat hy nou weer speenkalwers kan invoer, maar Suid-Afrika se Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is nie gelukkig daaroor nie.
Schneider meen Namibië se internasionaal aanvaarbaar hoë veeartsenykundige status moet gehandhaaf word. Daarin speel die rooilyn wat in die noorde van Namibië, vanaf die woestyn aan die weskus tot by die Botswanagrens sny, ’n belangrike rol om veesiektes uit die gebied suid daarvan te hou. Dit sorg dat die land sy belangrike status as vleisuitvoerland kan behou.
“Dit is die sleutel tot ons vleisuitvoer en gee ons toegang tot die beste markte vir vars vleis in veral Europa, terwyl die markte in die Verre-Ooste, Amerika en Rusland ook besig is om oop te gaan,” sê Schneider.