Die Namibiese Landbou-unie het sy jaarkongres afgesluit met ‘n duidelike boodskap van samewerking met die regering om ekonomiese groei en werkskepping aan te spreek.
Die NLU-kongres het onder die tema “Beginsels vir ‘n suksesvolle publieke private vennootskap” plaasgevind. Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. John Mutorwa, het sy ondersteuning tydens die die opening van die kongres gegee en gesê dat sy ministerie ten gunste van samewerking met die private sektor is om die doelstellings van die landbousektor, soos vervat in Visie 2030, te bereik.
Luidens die NLU se weeklikse nuusbrief het die genooide sprekers by die kongres, mnre. R. von Heereman en R. Sprung van die Duitse Ontwikkelingsdiens in Namibië, baie duidelike riglyne gegee onder watter voorwaardes openbare en private vennnootskappe suksesvol is.
Die kongresgangers het die volgende besluite geneem oor samewerking met die staat en die regering is versoek om:
* Die Namibiese Landbou-unie se rol in beleidsontwikkeling en toepassing te erken.
* Toeganklik te wees met betrekking tot voorgestelde strategieë vir beter samewerking.
* Om die NLU se inisiatiewe te versterk met betrekking tot volhoubare ontwikkeling van die landbousektor.
* Om voort te gaan om die NLU in ontwikkelingsaksies te betrek om die toepassing van projekte te bespoedig en professioneel af te handel.
* Om verskeie vorms van vennootskappe te ondersoek en aan te moedig.
NLU vereer presteerders
Mnr. Arne Gressman van die plaas Kleinhuis in die Grootfontein-distrik het ‘n Agri-ster, die hoogste toekenning van die NLU vir uitstaande diens aan die landbousektor, van die president van die NLU, mnr. Ryno van der Merwe ontvang. Gressman en sy vrou Christine is vereer vir die jarelange bydrae wat Gressman gemaak het as onder andere navorser, stigterslid van die Karstveld-studiegroep, meelewende lid van die georganiseerde landbou en ook voorsitter en lid van die Meatco-direksie.
18 September 2010