
Suid-Afrika het sy streng dieregesondheidsmaatreëls opgeskort wat die invoer van lewende hawe uit Namibië op 1 Mei tot stilstand geruk het.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het dit klaarblykblik gedoen nadat die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (SAV) gesê het daar was nie genoeg raadpleging nie en dat hy ná 26 Augustus regstappe sou doen.
Terwyl SAV en die Namibiese Lewende Hawe-produsenteorganisasie (LPO) die opskorting verwelkom, het Suid-Afrika se nasionale Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) sy misnoeë uitgespreek en gesê hy win 'n regsopinie hieroor in.
Mnr. Dave Ford, uitvoerende direkteur van SAV, sê die departement het die vereniging op 26 Augustus laat weet dat die invoervereistes vir Namibië, Lesotho, Swaziland en Botswana met onmiddellike effek opgeskort is.
Die SAV het vroeër by die departement beswaar gemaak dat die maatreëls onwettig is omdat die departement nie genoeg geraadpleeg het nie en die maatreëls strydig is met die sanitêre en fitosanitêre ooreenkoms tussen die twee lande.
Volgens die SAV “is die minister se siening dat daar onvoldoende inklusiewe raadpleging was” en sal dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid, binnekort hersiene invoervereistes in die Staatskoerant vir kommentaar publiseer.
Mnr. Lardus van Zyl, voorsitter van die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het in 'n verklaring gesê met die vorige invoermaatreëls wat nou weer van krag is, word die dieregesondheidstatus van Suid-Afrika se nasionale kudde in groot gevaar geplaas.
Die organisasie gaan Zokwana vra om die maatreëls van 20 April in plek te hou totdat die inklusiewe raadplegingsproses afgehandel is.
Die RPO meen daar was voldoende raadpleging oor hierdie maatreëls. Die RPO is bekommerd omdat die invoermaatreëls wat nou van krag is, volgens hom uit lyn is met die voorskrifte van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) en bots met die wetlike voorskrifte vir die invoer van lewende hawe soos vervat in die Dieregesondheidswet en die Veeverbeteringswet.
Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die LPO, sê dié organisasie het van die begin af gevra dat Suid-Afrika afsonderlike risiko-ontledings van elke buurland doen, soos wat die OIE aanbeveel. “Dit sou dan 'n geordende prosedure en nie 'n summiere sluiting nie van die grense behels het.”
Schneider sê berekenings word nog gedoen oor die skade wat Namibiese produsente gely het, maar dat dit miljoene rande beloop. “Ek dink Suid-Afrikaanse produsente is onder ’n wanindruk dat die Namibiese bedryf Suid-Afrikaanse vleispryse beïnvloed. Ons bedryf is te klein. Daar is baie groter faktore, soos die lae mielieprys wat nou daartoe lei dat voerkrale meer vir speenkalwers kan betaal en die pryse dus opgestoot het,” sê Schneider.