
Die grens tussen Suid-Afrika en Namibië kan nie gesluit word vir veehandel nie, want die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se handelsooreenkoms waarborg vrye handel. “Geen veranderbare invoerskedule bestaan om plaaslike skaapboere te beskerm teen invoer uit Namibië nie,” het mnr. Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die Roovleisprodusente-organisasie gesê.
Hy het gereageer op ’n beskrywingspunt van mnr. Theunis van Eeden van Bitterfontein, waarin hy sê skaapinvoer uit Namibië benadeel plaaslike boere se lamvleispryse. “Kan die invoerskedule nie meer georganiseerd wees sodat boere vooraf gewaarsku kan word om hulself teen swakker pryse te verskans nie?”
Van der Ryst het gesê vir elke skaap wat na Suid-Afrika gaan, moet een skaap ook in ’n Namibiese abattoir geslag word – die Namibiese vleisraad hou dit fyn dop. Namibië het min abattoirs, wat beteken die boere sukkel om hul skape geslag te kry, en ook na Suid-Afrika uitgevoer te kry. Dit is byna onmoontlik om die markte gelyk te maak, want die mark vir skaapvleis is baie wisselvallig.”
Min slagplase in Namibië
Mnr. John Dürr, verteenwoordiger van Wes-Kaapse Lewende Hawe en vorige voorsitter van die Wes-Kaapse RPO, het gesê die Namibiese owerheid weet van alle skape wat daar geslag word en maak hul deel daaruit. “Ons het al gevra dat die owerheid ons op die hoogte hou van hoeveel diere die Namibiërs daar slag sodat die plaaslike bedryf daarvolgens kan beplan. Hulle het ons nooit geantwoord nie.”
Namibië het net drie abattoirs en Suid-Afrika sowat 500. ’n Vleisraad reguleer alle diere wat in Nambië geslag word, terwyl Suid-Afrika nie so ’n raad het nie. “Van R8-R10/kg meer word vir skaapvleis in Suid-Afrika gerealiseer. Dus is Namibiese boere gretig om hul skape in Suid-Afrika te laat slag” sê Dürr.
As alle slagbeheer tussen die twee lande afgeskaf sou word, sou dit ideaal wees vir baie kleiner Suid-Afrikaanse abattoirs om hul voortbestaan te verseker. Van der Ryst het gesê die boer moet hom toespits “om soveel moontlik voedsel so goedkoop moontlik te lewer” en nie hul gedagtes te besoedel met politiek waaraan hulle niks kan doen nie.