
Die Namibiese regering se beperking van die hoeveelheid suiwelprodukte wat Suid-Afrika soontoe kan uitvoer, het in 'n hofstryd ontaard.
Die regering het in September verlede jaar kwotas vir suiwelinvoer aangekondig om die Namibiese bedryf te beskerm. Net 500 000 liter melk en room mag per maand ingevoer word en 200 000 liter van ander produkte soos jogurt.
Clover Namibia, Parmalat SA en Matador Enterprises, 'n onderneming wat produkte uit Suid-Afrika na Namibië invoer, het dit in die hof betwis en regter J. Smuts het op 16 Mei in hul guns beslis deur die kwotas tersyde te stel.
Hy het bevind die proses van besluitneming was foutief en belangegroepe is nie 'n behoorlike kans gegun om hul saak te stel nie. Die kwotas geld egter steeds omdat die Namibiese regering teen die beslissing geappelleer het.
Mnr. Japie Engelbrecht, voorsitter van die Namibiese Suiwelprodusentevereniging (DPA), sê Suid-Afrikaanse produkte wat na Namibië ingevoer is, het tot lae pryse gelei. “Ons moes veg om oorlewing.”
Namibië het een suiwelverwerker en 16 melkprodusente. Die Namibiese produsenteprys is in April verlede jaar met 40c verlaag. “Suid-Afrikaanse produkte word hier redelik goedkoper as in Pretoria verkoop. Pryse het nie vervoerkoste hierheen weerspieël nie. Ons gee nie om om mee te ding nie, maar dit moet op gelyke vlak wees.”
Volgens Engelbrecht is die kwotas gegrond op doeanesyfers van vorige invoer, maar me. Louise Cooke, hoof uitvoerende beampte van Parmalat, verskil en sê die syfers is baie laer as die afgelope paar jaar s'n.
Luidens hofstukke het die DPA aangevoer Suid-Afrikaanse produsente word bevoordeel deurdat GMO-mielies vir voer geplant kan word en deur die gebruik van sintetiese hormone om melkproduksie te verhoog.
Mnr. Jacques van Heerden, die Clover-groep se maatskappysekretaris, sê die maatskappy kry gereeld ondernemings van sy produsente dat hulle nie melk lewer wat van diere kom wat met sintetiese hormone behandel is nie, veral rekombinante beessomatropien (rBST).
Clover Namibia, wat in 2010 ingelyf is, voer Clover se langlewemelk, ultragepasteuriseerde melk, botter, kondensmelk, kaas, room, Tropika en sappe asook Danone-jogurt in.
Die beperkinge het volgens Van Heerden reeds 'n groot impak op Clover Namibia gehad en groot getalle werknemers moes afgelê word. Die Clover-groep beskou kwantitatiewe beperkings as 'n maatreël wat net as laaste uitweg gebruik behoort te word, onder meer omdat dit misbruik kan word weens 'n gebrek aan mededinging.
Vir Clover is die Namibiese mark deel van die groep se strategie om verspreidingsentrums in buurlande te vestig, om daar deurlopende toegang tot bekostigbare, gehalteprodukte te bied.
Cooke het gesê die Namibiese kwotas beperk die groei van Suid-Afrika se melkuitvoer en terselfdertyd verminder dit Namibiese verbruikers se keuses en skep die gevaar dat verbruikerspryse daar gaan styg.