
Met die Nampo-Oesdag wat volgende week buite Bothaville afskop, is dié dorp in rep en roer om gereed te maak vir duisende besoekers.
Die jaarlikse Nampo-Oesdag wat op Nampopark buite Bothaville in die Vrystaat plaasvind, lok jaarliks derduisende besoekers wat die terrein van heinde en ver besoek.
Bewaring
Vanjaar se Oesdagtema is “Bewaar die toekoms, tree vandag op”. Mnr. Cobus van Coller, voorsitter van die Oesdagkomitee, sê die fokus is op bewaring vir die toekoms.
Buiten bewaringsboerdery, sonkrag en windlaaiers, sal verskeie ander produkte, dienste en tegnologie wat op bewaring gemik is, te sien wees.
Intussen het die Bothaville-sakekamer, skole op die dorp en die munisipaliteit die dorp begin skoonmaak om vir die besoekers voor te berei. Volgens ’n berig in Volksblad is sowat 1 000 swart sakke vullis bymekaargemaak deur leerlinge van talle skole in die omgewing.
Die dorp word jaarliks voor die aanvang van Nampo op dié wyse skoongemaak.
Kom kuier
Landbouweekblad is ook volstoom besig met voorbereidings vir die Oesdag. Vanaf 15 tot 18 Mei sal daar by Landbouweekblad en SA Jagter/Hunter se uitstalruimte ’n plek wees waar boere die voordele van die landbou-toepassing op ’n iPad kan beproef. Verskeie nuttige landbougidse sal ook beskikbaar wees.
Dr. Faffa Malan, veearts en skrywer van die trefferboek Vra die veearts (Wat beesboere moet weet), sal ook teenwoordig wees om sy boeke te onderteken. Kom ontmoet ook lede van die Landbou.com-span en gesels saam oor die tydskrif se digitale ontwikkelings en planne.
Nóg een van die hoogtepunte is die Landbouweekblad-opskop geborg deur die Etana-versekeringsmaatskappy wat op Woensdag 16 Mei plaasvind. Die opskop begin om 18:30.
Kaartjies kos R60 en is te koop by Hanlie Mouton by die Bothaville-inligtingsentrum. Bel haar by tel. 056 515 3042 of 082 396 7556, faks 056 515 3619 of e-pos hanlie@bothaville.info.
Die opskop word ná die Oesdag se sluitingstyd by die Buenos Aires-onthaalgebied buite Bothaville aangebied. Oesdagbesoekers kan dan saam met die bekende sangpaar Christo en Kobus Snyman sowel as die sangeres Karen Ferreira kom kuier en eet.
* Om die verkeer tydens die Nampo-oesdag vinniger vanaf die hoofroete tussen Bothaville en Orkney na Nampopark by Bothaville te kry, waar die jaarlikse Nampo-oesdag van 15 tot 18 Mei gehou word te beheer, is die toegangsbane vanaf die teerpad na die parkeerterrein verbreed.
Hierdie uitbreiding van die grondpaaie na die parkeerterrein maak dit moontlik om in die oggende twee bane na binne te laat beweeg en een baan na buite. In die middae sal daar weer twee bane na buite en een baan na binne wees.
Landbouweekblad het verkeerdelik in sy Nampo-oesdagbylaag (LBW 4 Mei) berig dat die hoofroete tussen die twee dorpe verbreed is.
7 Mei 2012