Die Nampo-Oesdag is blykbaar nie net ’n plek waar boere en belanstellendes in die landbou kom kuier nie, maar ook ’n geleentheid waaroor vir die vale getwiet word!
Die sosiale netwerk Twitter het die afgelope week gegons met foto’s, kommentaar en vrae oor die Nampo-Oesdag wat buite Bothaville plaasgevind het.
Veral die twiets wat mnr. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, oor die Nampo-Oesdag geskryf het, het heelwat kommentaar ontlok. Jansen het Nampo Donderdag (18 Mei 2012) besoek.
Hy het onder meer op Twitter geskryf: “Nampo neem die leiding in die transformasie van die landbou in ons land. Ek het in my lewe nog nie soveel swart boere gesien wat stories van verandering vertel nie.”
Jansen het ook geskryf dat as jy nog nie by Nampo was nie, het jy geen idee watter rigting Suid-Afrika inslaan nie.
Die Nampo-Oesdag was só ’n gewilde onderwerp op Twitter dat dit met tye Donderdag een van die onderwerpe was waaroor daar die mééste in Suid-Afrika getweet is.
* Is jy op Twitter? Volg Landbouweekblad hier.
18 Mei 2012