
Die Nampo-Oesdag is nie net ’n vertoonvenster vir die landboubedryf nie, dit beteken ook miljoene rande se inkomste vir die land.
Mnr. Johan Loxton, bestuurder van kommersiële dienste by Graan SA, sê die organisasie het vier jaar gelede met behulp van ’n studie bepaal dat die Oesdag ’n inkomste van sowat R10 miljoen vir die Bothaville-omgewing beteken, terwyl dit ’n inkomste van R1 miljard vir die land genereer.
Dié reuse-inkomste word gegenereer deur besoekers en uitstallers wat in die omgewing blyplek moet kry, moet eet asook brandstof en dies meer benodig. Uitstallers moet onder meer ook hul produkte na die Oesdag vervoer, wat ’n inkomste aan ’n wyer mark beteken.
Mnr. Cobus van Coller, voorsitter van die Nampo-Oesdagkomitee, sê hulle verwag dat die jaar se besoekersgetalle weer tussen 66 000 en 68 000 sal wees.
Ploegkompetisie
Intussen word die ploegkompetisie, wat vanjaar ’n nuutjie by die Oesdag is, baie goed ontvang. Dié kompetisie en die internasionale ploegkompetisie word tans by die Oesdag bekend gestel. Dit word deur Tubestone, Graan SA en BKT aangebied, en sal voortaan deel wees van die Oesdag.
Mnr. William Hood, voorsitter van die Wêreldploeg-organisasie en ’n melkboer van Ierland, sê hy is verras oor hoe goed die kompetisie ontvang word.
Die kompetisie word in 35 lande aangebied, en Hood sê hulle is trots op die feit dat hulle “al iets reggekry het wat nog geen regering kon doen nie – ons het lande wat in ’n oorlog gewikkel was, sover gekry om aan dieselfde tafel te sit om oor ploeë te praat.”
Hy sê dit is opmerklik dat veral jonger boere vir die kompetisie inskryf. Twee demonstrasies van die kompetisie word daagliks by die Oesdag aangebied.
17 Mei 2012