Die Nampo-Oesdag wil boere ondersteun om ’n volhoubare sektor te skep en uitdagings aan te pak, sê mnr. Jannie de Villiers, die hoof uitvoerende beampte van Graan SA.
“Graan SA wil boere se hande sterk op hul roete na volhoubaarheid. Een van die doeltreffendste maniere om dit te doen, is die voorbeelde van die nuutste tegnologie, hulpmiddels, kundigheid en produkte wat tydens Nampo op een plek ten toon gestel word,” aldus De Villiers.
Luidens ’n verklaring is 670 uitstallers reeds besig om hul standplase vir die Oesdag van 17 tot 20 Mei in orde te kry. Verskeie nuwe produkte sal op vanjaar se Oesdag te sien wees.
Italië, Indië en Duitsland ook teenwoordig
Drie afsonderlike uitstallers van Italië, ’n uitstaller van Indië en een van Duitsland word vanjaar verwag. Die uitstalruimte vir die groep uitstallers van Amerika en Argentinië het sedert verlede jaar verdubbel. Boere, sakemanne en verteenwoordigers van verwerkers uit die gebied van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sal na verwagting ook besoek aflê.
Mnr. Jub Jubelius, die voorsitter van die Nampo-Oesdag, sê: “Ek is self ? boer en ek weet my medeboere sal nie moeite doen om iets by te woon wat nie hul gedagtes prikkel of inligting oor ? nuwe landbouterrein bied nie. Graan SA gee ook vir sy lede spesiale behandeling by die ledelokaal en op die koop toe bied die Oesdag selfs ’n geleentheid vir gesellige samesyn.”
Kaartjies vir die Oesdag sal van middel April af by uitgesoekte Engen-depots en Senwes Villiage-winkels beskikbaar wees. Dit kan ook daagliks by die hekke op Nampopark gekoop word. Kaartjies kos R70 per persoon vir die Dinsdag, Donderdag en Vrydag, en R80 per persoon vir die Woensdag.
1 April 2011