
Beroepsjagters, jaguitrusters en jagskole is nou ’n tree nader om ’n administratiewe rompslomp te ontduik met voorgestelde regulasies om hulle op ’n nasionale register te registreer.
Die Departement van Omgewingsake het die regulasies, wat ’n nasionale stelsel vir die registrasie vir die professionele jagbedryf daarstel, by die Nasionale Raad vir Provinsies vir verwerking ingedien.
Volgens die departement sal die regulasies help om te voorkom dat beroepsjagters of jaguitrusters provinsiale wetgewing in een provinsie oortree en wanneer sy permit teruggetrek word, hy dan voortgaan om besigheid in ’n ander provinsie te doen.
Me. Tharia Unwin, uitvoerende hoof van die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa), sê dit is hoogtyd dat ’n nasionale register vir die beroepsjagbedryf tot stand gebring word.
Sy verduidelik dat wanneer die regulasies bekragtig word, diegene wat lisensies vir beroepsjag en diegene wat jagondernemingslisensies wil uitneem, steeds daarvoor by hulle provinsies se omgewingsdepartemente sal aansoek moet doen. Dit sal ook daar uitgereik word.
Wanneer die provinsiale lisensie bekom word sal aansoek by die nasionale department gedoen moet word om op die nasionale register geregistreer te word. Die lisensie wat uitgereik word wanneer daar op nasionale vlak geregistreer word, sal dit moontlik maak vir die persoon om in enige van die nege provinsies as ’n beroepsjagter te kan werk of besigheid te kan doen, sê Unwin. Lande soos Botswana, Zimbabwe en Tanzanië maak reeds van dié soort nasionale lisensies gebruik.
Die voorgestelde regulasies stel ook die minimum ouderdom vir wanneer ’n beroepsjagkursus gedoen kan word en aansoek vir ’n jaglisensie gedoen kan word op 18 jaar.