
’n Maatskappy wat daarin spesialiseer om chemiese stortings op te ruim, is ingeroep om te help nadat duisende liter diesel tussen Harrismith en Verkykerskop in die Meulrivier beland het nadat dieseldiewe ’n klep op ’n Transnet-pypleiding gebreek het.
Dit is nie die eerste keer wat brandstofdiewe die pypleiding se kleppe oopbreek om vragmotors vol diesel te steel nie, dit gebeur deesdae nogal gereeld, sê mnr. Jan van Niekerk, ’n boer van die omgewing. Dit is ook nie ongewoon dat diesel in die proses vermors word nie, maar die skaal van die storting Dinsdagnag en Woensdagoggend is die ergste nog.
’n Vorige keer het die diesel in landerye in die omgewing ingeloop nadat ’n klep oopgelos is, vertel Van Niekerk. “ ’n Paar hektaar was onder diesel was en mens sal nooit weer daarop kan plant nie.”
Van Niekerk sê ’n Transnet-werker het al vir hom vertel dat die druk in die pypleiding wat diesel van Durban na Heidelberg vervoer, so hoog is dat dit ’n tenker van 18 000 liter binne vyf minute volmaak.
“Ons weet nie hoe laat die diewe toegeslaan het nie, maar toe ek Woensdagoggend om 07:30 die voorval aan Transnet rapporteer, het die diesel soos ’n fontein daar uitgespuit en in ’n stroom na die Meulrivier toe gevloei,” sê mnr. Niel Pienaar, Van Niekerk se buurman en veiligheidsverteenwoordiger van die Verkykerskop-boerevereniging.
Transnet se sekuriteit- en herstelspanne het hulle na die toneel gehaas en die lekkasie by die klep is afgeseël.
Me. Michelle Phillips van Transnet-pypleidings doen in ’n verklaring ’n beroep op die publiek om verdagte aktiwiteite langs die petroleumpypleidings aan te meld.
Veiligheid
Transnet het ook ruim bygedra tot ’n sekuriteitskamerastelsel wat deur boere in die omgewing langs die pypleiding opgerig is. Die kameras help, maar voertuie kom steel met vals nommerplate wat dikwels langs die pad met ander plate vervang word, sê Van Niekerk.
Boere is bekommerd oor hul veiligheid. Pienaar sê hulle waarsku hul lede om nie self te probeer om dieseldiewe te konfronteer nie. Van Niekerk, wat voorheen die voorsitter van Verkykerskop-boerevereniging was, sê een van hul lede het een aand onraad vermoed en met nagsigtoerusting ondersoek gaan instel waar die pyplyn oor sy plaas loop. Hy het gesien hoe van die diewe met outomatiese vuurwapens wagstaan, terwyl ander die tenkvragmotor vol diesel maak.
“Die mense weet wat hulle doen. Hulle het die regte gereedskap om kleppe oop en toe te maak. Iets moes skeefgeloop het dat hulle die klep gebreek het wat tot Woensdag se storting gelei het,” sê Van Niekerk.
Plaaslike leiers van opposisiepartye het met boere geskakel om die omvang van die ramp te bepaal en dit onder me. Barbara Creecy, ministervan bosbou, visserye en omgewingsake, se aandag te bring.
Me. Heloïse Denner van die Vrygheidsfront Plus het Creecy en mnr. Makalo Mohale, Vrystaatse LUR vir omgewingsake, skriftelik versoek om dringend in te gryp.
Creecy het glo dadelik mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gekontak wat die kwessie met Transnet opgeneem het. In daardie stadium was Transnet se herstelspan reeds op die toneel, maar nog nie bewus van die groot hoeveelheid diesel wat in die rivier beland het nie.
Creecy het later laat weet dat daar versperrings oor die Meulrivier geplaas is om die diesel op die oppervlak te vang voordat dit in die Vaaldam beland. Die maatskappy Spill Tech is aangestel om die dieselstorting op te ruim.