
Hoewel die aantal rampe vyfvoudig sedert die 1970’s toegeneem het, het die aantal sterftes drievoudig verminder.
Me. Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het op die viering van wêreld- meteorologiese dag 2022 gesê die vermindering in sterftes word toegeskryf aan verbeterde vroeë waarskuwingstelsels en beter strategieë om ramprisiko’s te verminder. Die wêreld- meteorologiese organisasie (WMO) is op 23 Maart 1950 tot stand gebring. Vanjaar se tema vir die viering was “Vroeë waarskuwing en vroeë optrede”
Sy het daarop gewys dat ’n verslag tussen regerings oor klimaatsverandering daarop dui dat daar reeds ’n toename in uiterste weerstoestande soos hittegolwe, swaar reën, droogtes en tropiese siklone is wat menselewens beïnvloed. Hierdie neiging sal voortduur en tot groter lewensverliese lei. “Daar word ook geraam dat teen 2030 sowat 50% van die wêreld se bevolking in kusgebiede sal leef waar hulle blootgestel sal wees aan vloede, storms en tsoenami’s. Hierdie tipe verstedeliking sal gemeenskappe se kwesbaarheid verhoog.”
Creecy het gesê Suid-Afrika kan ook getuig van natuurrampe, nie net die afgelope seisoen nie, maar die afgelope dekade en langer. “Swaar reën het onder meer vroeër vanjaar tot vloede by Ladysmith en die binneland van KwaZulu-Natal gelei wat infrastruktuur vernietig en tot lewensverliese gelei het.”
Terwyl die internasionale meteorologiese gemeenskap daarna streef om almal met vroeë waarskuwings te bereik, is die werklikheid dat ’n derde van die samelewing nie deur hierdie vroeë waarskuwingstelsels gedek word nie. Die WMO bepleit groter koördinasie tussen meteorologiese en hidrologiese dienste, rampbestuursowerhede en ontwikkelingsagentskappe om voorkomings- en gereedheidsvlakke te verhoog.
Creecy het gesê Suid-Afrika werk hard om samewerking tussen belanghebbendes op nasionale, provinsiale en munisipale rampbestuursvlakke te bewerkstellig om rampe te help voorkom en tydig op te tree indien dit wel voorkom. “Vandag is ons beter voorberei en toegerus om lewens te red. Ons het superrekenaars en -satelliettegnologie wat ons voorspellingsvermoë aansienlik verbeter het. Met beter koördinasie op nasionale, streeks- en internasionale vlak kan ons gemeenskappe gouer mobiliseer om rampe af te weer. Tradisionele en sosiale media help ons ook om ’n groter gehoor as voorheen te bereik.”
Vroeër het Creecy ’n geleentheid bygewoon waar gepraat is oor hoe kos- en verpakkingsafval verminder kan word. Die geleentheid is gereël deur die raad op verbruikersgoedere en ’n EU-SA-gespreksgroep om te kyk na die vordering met die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwit om voedselverliese en -afval teen 2030 met 50% te verminder.
Sy het gesê volgens die department van wetenskap en innovasie en die wetenskaplike nywerheidsnavorsingsraad word sowat 10,3 miljoen ton kos en drinkgoed, wat saam sowat 34,3% van plaaslike produksie uitmaak, jaarliks in Suid-Afrika teen ’n koste van R61,5 miljard vermors.
“Terwyl ons met sulke skokkende statistieke sit, het ons ook ’n probleem met ’n akute voedseltekort. In 2020 het sowat 9,3 miljoen mense in Suid-Afrika ’n ernstige gebrek aan voedselsekerheid ondervind. Internasionaal is 800 miljoen mense ondervoed.” Sy het gesê Suid-Afrika se voedselsekerheid wat agteruitgaan, is hoofsaaklik die gevolg van die covid-19-pandemie, hoë voedselpryse, droogte en ekonomiese agteruitgang.
Creecy het gesê Suid-Afrika bly verbind tot die doelwit om die per capita-voedselafval op kleinhandel en verbruikersvlak, asook verliese in die produksie en waardeketting met die helfte teen 2030 te verminder.