
Dit wil voorkom asof daar nog geen ingryping van die staat se kant was in die haglike toestand van die Mantusini-melkprojek naby Port St. Johns nie sedert ondersoeke van die DA in Maart 2021 ontbloot het dat 350 koeie weens verwaarlosing op die plaas gevrek het.
Volgens mnr. Retief Odendaal, DA-LPR, het hy tydens ’n onlangse ondersoek gevind dat ’n verdere 11 koeie gevrek het, met nog 4 wat op vrek staan. Daar is geen geld oor vir behandeling of medikasie nie.
“Die DA het nou die saak aangemeld by die nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) om dringende ingryping te vra.”
Odendaal sê daar is slegs 89 koeie oor van die oorspronklike 500 koeie van dié staatsprojek van R43 miljoen naby Port St. Johns in die Oos-Kaap, nadat 72 koeie en kalwers na ’n plaas by Kokstad verskuif is. Daarby is daar tans geen plaas- of projekbestuurder of skoon drinkwater vir die vee nie. Daar word gereken dat ’n verdere R20 miljoen benodig sal word om die plaas weer produktief te kry.
Odendaal sê ondanks beloftes van mnr. Nonkqubela Pieters, Oos-Kaapse LUR van landelike ontwikkeling en grondontwikkeling, lyk asof daar nog geen ingryping was van amptenare van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming om die melkery by te staan nie.
“Verteenwoordigers van die melkplaas het onthul dat die trust Eskom meer as R650 000 skuld. Die kragtoevoer na die plaas is daarom lankal afgesny. Bykomend daartoe word R280 000 geskuld aan diensverskaffers wat voer aan die plaas verskaf het.”
Landbouweekblad het in April 2021 berig dat melkproduksie reeds in Julie 2020 begin doodloop het. Die geld het opgedroog nadat ’n nuwe bestuurder, Creamtop, by die vorige bestuurder van die projek, Amadlelo Agri, oorgeneem het.
Volgens Odendaal is die doel van die projek, wat strek oor 373 ha se kommunale grond, om 500 huishoudings op te hef.
“Pleks daarvan is dit nou ’n wanfunksionele wit olifant, waar diere gevrek het omdat die regering nie daarin kon slaag om tegniese of finansiële ondersteuning te bied nie.”