
’n Groep Nederlandse aktiviste wat lid is van die Milieudefensie (Nederlandse tak van Friends of the Earth) het in Suid-Afrika aangekom om hulle te vergewis van Shell se plan om hidrobreking in die Karoo te doen vir die ontginning van skaliegas. Hulle word vergesel deur lede van die Southern Cape Land Committee en GroundWorks, (die Suid-Afrikaanse tak van Friends of the Earth).
Me. Ike Teuling, woordvoerder van die Milieudefensie, met 80 000 lede, het aan Landbouweekblad gesê hulle wil eerstehands vasstel wat Shell met hidrobreking hier in die mou voer. “Dit is betekenisvol dat hulle in verskeie lande met hidrobreking besig is, maar nie in Nederland nie. In Nederland is daar ’n moratorium op hidrobreking. Hoe gebeur dit dat ’n maatskappy wat in ons land sy oorsprong het dit nou in Argentinië, Oekraïne, China, Tunisië en Suid-Afrika doen?”
Teuling sê hoewel Shell in sy operasionele beplanning aanvoer dat hy nie ten gunste van die bogrondse berging van afvalstowwe wat met hidrobreking gepaardgaan is nie, sy persoonlik gesien het dat dit wel in die Oekraïne die geval is. “In Argentinië is kleinskaalse bokboere wat nie meer daar kan boer vanweë die stof van vragmotors wat die natuurlike weiding besoedel het. Ons het die kwessie op ’n jaarvergadering van Shell in Nederland geopper en is bloot meegedeel dat die bokboere in Argentinië onwettig daar boer.”
Volgens Teuling het sy ook aangrensende wynplase in Argentinië waar Shell konsessies het om hidrobreking te doen besoek. “Die eienaars wil egter onder die radar bly aangesien hulle bevrees is dat dit skade aan die beeld van hulle wyn kan doen.
“Ons het na Suid-Afrika gekom om eerstehands vas te stel hoe diegene wat teen hidrobreking gekant is hul veldtog aanvoer en ons ervaring in Nederland met hulle te deel.”
Sy sê ná hulle besoek aan die Karoo sal hulle ook Kaapstad besoek om met parlementariërs te netwerk. “Ons het nie die geld wat Shell het nie, maar ons het die mense.”
Byskrif: Van links is me. Irina Gommers, mnr. José Gil Paris, me. Ike Teuling, mnr. Hycke Hekkenberg en mee. Eva Wu en Mirjam Bemelmans. Foto: Theuns Botha