Alle in- en uitvoerders van landbouprodukte kan geraak word deur ’n tariefverhoging van 18,06% in verskepingskoste, aldus die Landboubesigheidskamer (LBK).
Derhalwe doen die kamer in ’n nuusbrief ’n beroep op sy lede om deel te neem aan die openbare verhore oor die tariewe wat volgende week sal plaasvind.
Volgens Besigheidseenheid van Suid-Afrika (Busa) is hierdie verhoging, wat tans drie keer hoër is as die land se inflasiekoers, vir die 2012/’13-boekjaar voorgestel.
Die organisasie sê dit is belangrik dat bydraes gelewer word, aangesien dit voorheen tot die verlaging van tariefvoorstelle gelei het.
2011/’12 se voorstel
Die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) het in November verlede jaar aangekondig dat die tariefaanpassingsvoorstel vir die 2011/’12-boekjaar 11,9% was, maar dit het verskil vir verskillende kommoditeite.
Met behulp van Busa het die Suid-Afrikaanse skeepsraad en die Suid-Afrikaanse vereniging vir vragvervoerders die TNPA oor die onregverdigheid van dié verhoging vir sekere bedrywe, asook die invloed daarvan op die ekonomie ingelig.
Op die ou end is ’n verhoging van 4,49% vir alle bedrywe aanvaar en toegestaan.
Mnr. Stuart Symington, hoof uitvoerende beampte van die Varsprodukte-uitvoerdersforum, het tydens die AMT-kongres vanjaar in Pretoria ’n beroep op die hele landboubedryf gedoen om by dié openbare proses betrokke te raak om die bedryf se belange te beskerm.
Mededingendheid
Volgens die LBK sal die iinwerkingstelling van dié tariefvoorstel ernstige gevolge vir die bedryf se internasionale mededingendheid en die land se ekonomie inhou.
Hulle moedig alle rolspelers aan om die openbare verhore by te woon, en diegene wat voorleggings wil doen om dit voor of op Maandag 3 Oktober 2011 aan die LBK te stuur. Kontak me. Lindie Stroebel by lindie@agbiz.co.za in dié verband.
Die datums vir die openbare verhore is hier beskikbaar:
23 September 2011