Dr. Pieter Mulder sê leiers se uitsprake oor die nasionalisering van grond is onverantwoordelik en behoort gestaak te word.
Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, was die genooide spreker by die Rooivleis- en Abattoirvereniging se konferensie op Stellenbosch.
“Nasionalisering van grond sal voedselsekerheid in Suid-Afrika vernietig. Dit sal ’n groot krisis in die banksektor veroorsaak weens die gebruik van grond as sekuriteit vir lang- en korttermynlenings.
"Dit sal ook die kommersiële landbou in Suid-Afrika onherstelbaar skade aanrig. Dit sal die uittog van landboukundigheid en kommersiële boere uit die landbou en uit Suid-Afrika onkeerbaar maak.”
Mite
Volgens hom is dit ’n “propaganda-mite dat nasionalisering van grond Suid-Afrika se armoedeprobleme kan oplos”.
Hy het Zambië en Zimbabwe met mekaar vergelyk om te toon hoe belangrik die regte besluite oor nasionalisering is.
“Sedert die regering van Zambië sy fokus geskuif het na private eienaarskap en vrye handel, het die bruto binnelandse produk (BBP) met meer as drie keer vermeerder.
"In Zimbabwe is ’n nasionaliseringsbeleid ingestel en hul BBP per kop het afgeneem van $900 tot $270 en inflasie het gestyg van 4% tot 20%. Werkloosheid het van 20% geklim tot 80%. Die lewensverwagting in hierdie land het afgeneem van 60 jaar tot 34 jaar,” het hy gesê.
Volgens Mulder is Afrika gerat vir ’n groen revolusie, en kan Suid-Afrika met sy landboupotensiaal groot voordele inoes as op ’n verantwoordelike wyse oplossings gevind word vir die grondvrae.
Hy sê as boere wil bybly met die groeiende wêreldbevolking sal produksie met sowat 2% moet styg. Teen 2030 sal produksie met 50% moet klim en dit sal teen 2050. moet verdubbel.
“Ons het net een planeet om dit op reg te kry.”
10 Mei 2012