
Nege mense is deur die polisie vasgetrek vir die onwettige besit van beskermde vetplante.
Luidens die polisieverklaring het die Springbok-polisie met samewerking van die Kuilsrivier-eenheid vir veediefstal en beskermde spesies die verdagtes verlede week in ’n gesamentlike projek vasgetrek.
Die klopjag is op 6 Januarie vanjaar in Elsiesrivier in die Wes-Kaap uitgevoer toe op 3 500 Conophytum achabense-vetplante met ’n geskatte waarde van R200 000 en Conophytum fredericea-vetplante met ’n geskatte waarde van R150 000 beslag gelê is. Die polisie het ook beslag gelê op twee voertuie, ’n VW Polo en ’n Opel Kadett, en vyf selfone wat vermoedelik in die uitvoering van ’n misdaad gebruik is.
Die nege verdagtes is almal van Springbok. Hulle het reeds in die hof in Goodwood verskyn op aanklagte van die onwettige besit, handel, versamel en besit van beskermde plante.
Volgens die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) is dit hoogs bedreigde plante wat deur stropers uitgewis word. Die plante groei baie stadig en herstel nie sommer wanneer dit beskadig word nie. Die plek waar die plante groei, word geheim gehou.