
Ná die teleurstellende openingsveiling twee weke gelede, toe die prys van sterk bokhaar met 32% getuimel teenoor die laaste veiling in Mei, het boere besluit het om hulle reserwevlakke op die jongste veiling uit te oefen. Dit het daartoe gelei dat net 4% van die sowat 60 000 kg sterk haar regstreeks op die veiling verhandel het.
’n Relatiewe groot gedeelte van die sterk haar is egter ná afloop van die veiling deur makelaars uit die hand verkoop teen pryse wat sowat 5% hoër was vergeleke met wat kopers bereid was om op die eerste veiling van die winterseisoen te betaal. Van die nagenoeg 179 000 kg haar wat op die veiling aangebied is, is net 51,62% ter waarde van R16,7 miljoen verkoop.
Swak vertoning
Volgens SSA het die prys van kleinbokkiehaar met 5% gestyg tot R291/kg, jongbokhaar was 3% duurder teen R236,43/kg en fyn grootbokhaar wat teen R204,55/kg verkoop het, se prys was 10% hoër as op die openingsveiling.
Mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder sybokhaar van die OVK/CMW-groep, sê dat die swak vertoning van sterk bokhaar te wyte is aan onsekerheid in die Chinese mark wat die belangrikste koper in die segment is. “Die politieke onsekerheid in die land (Suid-Afrika) en die gepaardgaande skommeling in die waarde van die rand bemoeilik die langtermyn-finansiële beplanning vir verwerkers.”
Die grootste kopers op vandeesweek se veiling was Samil (293 bale), Stucken (284 bale) en Mosenthals wat 102 bale gekoop het. Die volgende veiling is 27 September.