
Die regte bemarkbare produk, die regte opbrengs en die regte gehalte op die regte tyd “maak ’n boer goed”, het mnr. Kalie Kirsten, wingerd-en-vrugteboer van Goedvertrouw, Stellenbosch, op ’n seminaar oor produksiekoste gesê.
Optimale vermoë en druk is nodig vir goeie bestuur, maar dit moet nooit omsit in krisisbestuur nie. Dit is wenslik om onwinsgewende bedryfstakke op ’n plaas te verwyder, maar dit is nie altyd so eenvoudig nie. “Kyk na vaste koste teenoor veranderlikes, want koste wat spruit uit die verwydering van ’n vertakking moet dikwels nog ‘gedra’ word deur oorblywende vertakkings – wat hul koste dan laat styg.”
Aspekte wat inkomste per ton bepaal, is gehalte, ooraanbod, mededinging, wisselkoersskommelinge, verbruikersvoorkeure en die resessie wêreldwyd. Om inkomste of ton per hektaar te verhoog, is belangrik vir wins, maar siektes, besproeiing, bemesting, diefstal en snoei beïnvloed die inkomste.
“Wanneer ’n wingerd hervestig word, is daar ’n paar jaar waarin daardie stuk grond geen inkomste lewer nie en dit kos geld,” het Kirsten gesê.
“Jou uitgangspunt vir goeie bestuur moet wees dat alle mense potensieel skelm en lui is.”
Daarom moet alles noukeurig bestuur en gemeet word. As almal egter deel in die wins, word eerlikheid bevorder. ’n Eerlike en goeie voorman vir voorraadbeheer wat alles aanteken en meet, is ’n noodsaaklikheid vir winsgewendheid.
“Kontant bly koning en skuld moet altyd ’n laaste opsie wees,” meen Kirsten. “En as jy nie belasting betaal nie, moet jy bekommerd wees, want dan maak jy nie geld nie.”