
Suid-Afrika het nog nie ’n meesterplan vir water wat hom moet lei om droogtes en watertekorte te hanteer nie!
Só ’n plan sal moontlik eers in Maart 2018 gereed wees, het die Parlement se portefeuljekomitee vir water en sanitasie gehoor.
Me. Pamela Tshwete, adjunkminister vir water en sanitasie, het verduidelik dat geen dokumentasie vir die plan nog gefinaliseer is nie. ’n Konsepvoorstel is egter reeds aanmekaar geslaan, maar moet nog na die provinsies vir hul bydraes geneem word.
Konsepvoorstel in Oktober
Mnr. Dan Mashitisho, direkteur-generaal van die Departement vir Water en Sanitasie, het verder verduidelik dat hulle hoop om die konsultasieproses so gou moontlik te voltooi sodat ’n behoorlike konsepvoorstel teen Oktober gereed sal wees om na die Parlement te bring vir bestudering.
Me. Nomvula Mokonyane, Minister vir Water en Sanitasie, het einde 2015 aangekondig dat haar departement ’n meesterplan vir water gaan ontwikkel om die land se water beter vir die toekoms te beplan.
Altesaam 19 jaar nadat wetgewing die lig gesien het wat die transformasie van besproeiingsrade moontlik maak, sukkel die Departement van Water en Sanitasie steeds om sowat ’n derde daarvan in waterverbruikersverenigings om te skakel. Die transformasié was veronderstel om binne ses maande, ná die bekragtiging van die Nasionale Waterwet in 1998, voltooi te word.
'Is dit blote luiheid?'
Mnr. Derick Mnguni, ANC-LP, sê dis onaanvaarbaar dat die departement reeds 19 jaar ’n goedgekeurde beleid het, maar dit nie implementeer nie. Hy wou weet of die gesloer uit blote luiheid is of omdat die departement nie weet wat hy doen nie.
“Swart boere in Mpumalanga huil dag na dag vir water. Daar is water maar hulle het nie waterregte nie en daarom word daardie plase afgevat.”
Me. Thoko Sigwaza, hoofdirekteur by die departement, het verduidelik dat dit nie ’n maklike taak is om die besproeiingsrade te transformeer nie.
Kanale het nie meer kapasiteit
Sowat 98% van die beskikbare water is reeds toegestaan en meeste kanale het reeds hul drakapasiteit bereik. Die verouderde infrastruktuur bring groot waterverliese mee en voedselproduksie in die land is ook nog afhanklik van die beskikbaarheid van die hulpbron.
Boonop is dit moeilik om ’n raad voor te sê wat hy moet doen wanneer sy infrastruktuur privaat gefinansier is. Opkomende boere sukkel ook om die heffings van die rade te betaal.
Moontlike verlies
“Kredietrisiko’s en moontlike verlies van die grond bestaan weens onbetaalde skuld aan besproeiingsrade en waterverbruikerverenigings wat ophoop.”
Sy het uitgewys dat 439 waterlisensies aan swart mense die afgelope vier jaar toegestaan is.
Die departement sal binnekort begin om provinsies te besoek om insette oor sy waterplan te kry.