
Boere wat vroeër vanjaar deur vloede geteister is, is erg gefrustreerd terwyl hulle op hulp van die Regering wag, sê Agri Noord-Kaap. Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê staatsamptenare neem vandag die opnames en inligting wat boere aan hulle verskaf het, na Grootfontein-distrik waar dit in ’n rekenaarstelsel ingevoer sal word.
“Ons weet nie hoe lank hierdie proses gaan duur nie, want verifiëring moet ook plaasvind. Ek weet nie of ons enige terugvoering voor einde April gaan kry nie”, sê Van Rensburg.
Erg frustrerend
Van Rensburg sê die proses en die sloering is uiters frustrerend en die boere raak ongeduldig omdat hulle so lank moet wag vir hulp. “Dinge kan nie teen so ’n slakkegang gebeur nie, veral ná die staat ons vroeër so gedruk het om binne dae ’n skatting van die skade te verskaf nie.”
Intussen sê Jors en Mariët van der Westhuizen van die Grootdrink-distrik dinge staan op baie plase stil omdat die boere wag op hulp om hul infrastruktuur te herstel. “Ons weet van slegs enkele plase waar boere begin het om dinge self reg te maak, maar die meeste se hande is afgekap terwyl hulle op geld wag”, vertel Mariët.
Sy sê die Oranjerivier loop tans op ’n vlak van 3,8m. Die rivier se vlak word tans goed beheer. “Ons is maar elke keer onrustig as dit baie reën in die noorde, want as die rivier nou weer opstoot, is daar vir ons geen manier om hom te keer nie”.
29 Maart 2011