
Die voorstel van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondsake en Landelike Ontwikkeling, dat boere 50% van hulle grond aan werkers moet afstaan, was bloot sý interpretasie van die ANC se vryheidsmanifes dat grond aan almal wat dit bewerk behoort, het mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC op die jaarkongres van Agri Oos-Kaap in Port Elizabeth gesê.
Hy het daarop gewys dat Nkwinti se voorstel daarop gemik was om ’n debat te open hoe daar met ’n werkbare formule van grondherverdeling vorendag gekom kan word wat die proses sal versnel. “As dit nie gedoen word nie, speel dit net in die hande van die EFF wat grondvergrype soos in Zimbabwe voorstaan. Niemand van die ANC het nog óóit gesê dat grond sonder vergoeding van boere ontneem sal word nie. Daarom vra ons (die Regering) vir sinvolle voorstelle en nie net kritiek nie. Dit is ’n komplekse probleem maar in plaas van oplossings, bevind die Regering hom nou in die rol van die opposisie.”
Mantashe het gesê die ANC se stryd was nóóit teen wittes as sodanig gemik nie, maar teen wit oorheersing. Omdat swart Suid-Afrikaners egter vir jare van geleenthede, insluitende die besit van grond as ’n hulpbron, ontneem was kan sake nie net so voortgaan nie. Die grootste uitdaging is hoe die land verander kan word waar die meerderheid min hoop koester, na een waar hulle met waardigheid kan woon en werk.
“Die akademiese diskoers dat die konsolidasie van grond in groter eenhede die enige uitweg vir voedselsekerheid in die land is, is dogmaties. Dit wil jou laat glo dat klein sleg is. Dat voornemende swart boere nie klein kan begin nie en derhalwe eerder nie grond moet besit nie. Dit is terselfdertyd wensdenkery dat ’n boer wat nié op ’n klein lappie grond ’n sukses kan maak nie, dit op ’n groot plaas van 2 000 hektaar sal regkry.”