
Meer as 65% van die begunstigdes van die plaasaandeleskemas van die Regering meen daar was geen verbetering in hul lewensomstandighede sedert met die skemas begin is nie.
Dié onthulling is vervat in ’n hersieningsverslag van die risiko-konsultantfirma Zalo Capital. Dit is deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, bekend gemaak.
Mnr. Thomas Walters, die DA se skaduminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, wou in ’n parlementêre vraag by Nkwinti weet waarom die hersieningsverslag nie by die Parlement ingedien is nie. Hy wou weet wat die sleutelbevindinge daarvan was.
Die departement het Zalo Capital in 2011 genader om 89 plaasaandeleskemas te ondersoek.
Die meeste van die skemas is in die Wes-Kaap (61%) en die Oos-Kaap (24%). Meer as R30 miljoen “beplanningstoelae” is aan konsultante van die 89 skemas betaal. Altesaam 50 607 ha is grootliks vanaf 2005 tot 2008 goedgekeur teen ’n koste van R682 miljoen.
Nkwinti het gesê die konsultasiefirma het bevind dat 18% van die begunstigdes aangedui het dat hul lewensomstandighede verbeter het, 16% het effense verbetering aangetoon en 66% geen verbetering nie.
Altesame 26% van die begunstigdes het aangedui dat ’n slegte verhouding tussen hulle en die kommersiële boere bestaan. Daar is bevind dat slegs 47% van die oorspronklike begunstigdes nog deel van die aandeleskemas is.
Van die probleme wat in die verslag gemeld is, was dat die aandeelhouding van sommige begunstigdes verminder was sonder dat hulle behoorlik daaroor geraadpleeg is, hulle kontrakte onderteken het sonder dat ’n raadgewer hulle bygestaan het, by sommige skemas was die huise van bruin en swart begunstigdes geskei en baie skemas het nie voldoen aan die vereiste bydraes wat die Regering se program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD) daargestel het nie.
Van die voorstelle in die verslag is dat die goedkeuring van nuwe plaasaandeleskemas gesentraliseer moet word en ’n standaardproses vir die waardering van alle nuwe aansoeke ingestel moet word.
Daar moet gekyk word na die redes waarom die aandele verkoop en likwidasie van die skemas plaasvind. Nog ’n voorstel is dat die Regering ’n ondersteunings- en bestuurseenheid moet skep wat die skemas monitor en ondersteun.
Nkwinti het gesê die rede waarom die hersieningsverslag nie na die Parlement gebring is nie, was omdat die hersiening van die aandeleskemas ’n interne departementele proses was om beleidstoepassing te verbeter.