
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het dit duidelik gemaak dat grondplafonne ’n werklikheid sal word.
Hy meen die kritiek van organisasies soos Agri SA en die VF Plus dat grondplafonne nie werkbaar is nie, net ’n manier is om etniese belang voor nasionale belang te plaas.
“Agri SA, die VF Plus en diegene wat sê dis onwerkbaar, droom slegs. Jy kan nie sê iets is onwerkbaar veral as jy nog dit nog nie eens probeer het nie.
“Hulle wil dit nie hê nie omdat hulle hul eie belange ten koste van die nasionale belang wil beskerm. Nasionale belang is verhewe bo etniese belang. Nasionale belang beteken dat die land sy rykdom op ’n regverdige en billike manier tussen alle rassegroepe moet deel.”
Boere het reeds op die onlangse kongres voorstelle van hoe die ekonomiese veranderlikes daaruit moet sien, aan Nkwinti gegee. “Ek’s baie beïndruk. Ek het al lank gelede hiervoor gevra. My span werk nou aan dié en ander voorstelle oor hoe die grondplafonne moet lyk.
“Die veranderlikes sal die Regering help om ‘n regime te vestig waarby ’n klein, middel en groot kommersiële plaas bepaal kan word. Veral omdat elke provinsie anders is en daar verskeie soort kommoditeite is.
“Dit moet werkbaar vir ons ekonomie wees want soos dit die nalatenskap van die Wet op Naturelle-grondbesit van 1913 moet aanspreek, moet daar ’n sensitiewe balans tussen voedselsekuriteit en transformasie behou word,” het Nkwinti gesê.