
Swart mense het reeds té lank agteroorgebuig en dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners verantwoordelikheid begin neem vir die vordering wat gemaak moet word sodat grond gedeel kan word met diegene wat dit bewerk.
Hiermee het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in die Parlement sy radikale uitspraak verdedig dat boere 50% van hulle grond aan plaaswerkers moet afstaan.
Die omstrede voorstel wat in die dokument, “Finale beleidsvoorstelle oor die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” is in teenstelling met die voorstelle in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).
Nkwinti het ook uitgewys dat hy vier jaar gelede aangekondig het dat 95% van die projekte vir grond wat oorgedra is, onsuksesvol was. “Altesaam 27% van daardie grond is nou produktief en oor die afgelope drie jaar het ons drie miljoeners opgelewer.
Hy het aangekondig dat pogings aangewend word om dié klas swart kommersiële boer in die lewe te roep wat deur die 1913-wet vernietig is.
Intussen het me. Hellen Zille, premier van die Wes-Kaap, ‘n beroep op die Regering gedoen om dié provinsie die geleentheid te gee om die voorstelle rakende grondhervorming, soos vervat in die NOP, te implementeer. Die Wes-Kaap se het reeds ‘n suksesvolle aandeleskema-model waarmee hy groot suksesse behaal.
Zille het bygevoeg dat die hooffokus van grondhervorming dié van kommunale grondbesit in die voormalige tuislande moet wees. “As ons die landboupotensiaal van die Oos-Kaap kan ontsluit, dan sal ons honderd duisende van die miljoen werke kan skep wat pres. Jacob Zuma belowe het.
“Ons sal kos na Afrika en die res van die wêreld kan uitvoer.”
Dit verstom haar egter dat die Regering nie iets doen om die mees vrugbare grond in die land in produksie te kry nie, maar eerder fokus op grond wat tans reeds kos produseer en werk verskaf.