Die grondoudit waaraan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming werk, sal nie aandui hoeveel grond in die private mark verhandel is nie.
Die departement het nie ’n register van staats- en openbare grond nie en daarom kan hy nie die kwessie oor wie hoeveel grond in die land het, oortuigend beantwoord nie.
In ’n poging om dr. Pieter Mulder en ander opposisielede se vraag te beantwoord oor wie hoeveel grond in die land besit, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, verduidelik dat dit eers ná die voltooiing van die grondoudit volledig gedoen kan word.
Hy het gesê na afloop van die oudit sal grondeienaarskap verder ondersoek moet word om te bepaal hoeveel van die grond in swart mense se besit is. Om hierdie inligting te kry sal met binnelandse sake saamgewerk moet word.
Maatskappy-grond ook ingereken
Daar sal ook met die Departement van Handel en Nywerheid gewerk moet word om te bepaal hoeveel grond in die hande van maatskappye is en ook met die Meester van die Hof om die getalle te bepaal wat in trusts is.
Hy het te kenne gegee dat die syfers rakende die hoeveelheid grond wat oorgedra is, kompleks is en baie keer verkeerd verstaan word.
Nkwinti verduidelik dat wanneer daar van die oordrag van 30% grond teen 2014 gepraat word, die 30% altesame 24,5 miljoen hektaar grond verteenwoordig van die 82 miljoen hektaar grond wat wit kommersiële boere besit.
Van die 30% (24,5 miljoen hektaar) is slegs 6,7 miljoen hektaar vir restitusie sowel as herverdeling oorgedra. Hierdie 6,7 miljoen hektaar verteenwoordig 26,7% van die 24,5 miljoen hektaar wat oorgedra is.
1 Maart 2012