
Plaaswerkers moet iets kry vir al die werk wat hulle doen, sê mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Nkwinti het by sy departement se drie dag lange beraad oor verblyfsekerheid in Boksburg, wat deur sowat 2 500 afgevaardigdes bygewoon is, gesê dit is verkeerd dat plaaswerkers aan die einde van hul lewens niks vir hul werk kan wys nie.
Nkwinti het vroeër vanjaar ’n plan voorgestel waarvolgens die Regering 50% van plase koop en dit aan plaaswerkers gee wat lank op die plase gewerk het. Die geld sal nie aan boere betaal word nie, maar in ’n trust om die werkers te bemagtig.
Nwinti het by die beraad gesê organisasies wat gekant is teen die plan, kan dit nie net verwerp nie. “Die vraag is: Hoe gaan julle ons halfpad ontmoet?”
Hy het ’n waarskuwing aan teenstanders van die plan gerig deur te sê dit gaan nog goed in Suid-Afrika, “maar ons kan nie waarborg dat dit oor 10 of 20 jaar nog so gaan wees nie.
“Ons wil ’n spesifiek Suid-Afrikaanse probleem regstel. Diegene wat 70% van die grond beheer, is maar 14% van die bevolking.”
Nkwinti het gesê daar is mense wat meer as 30 000 ha besit en dat dit nie moreel verdedigbaar is nie, omdat daar mense is wat niks het nie en honger ly.
Volgens Nkwinti gaan die beoogde grondkommissie van mense vereis om hul eienaarskap van grond te verklaar en dat daar só onder meer vasgestel sal kan word “wie staatsgrond gesteel het”. Hy het gesê sy departement sal dieselfde taktiek as die inkomstediens gebruik: “As julle praat, sal ons julle nie vervolg nie.”
Oor kommunale grond het Nkwinti gesê die departement wil mense op hierdie grond se gebruiksreg wettig sodat hulle die grond as kollateraal kan gebruik.
Om seker te maak die grond word nie deur “haaie” weggeneem nie, sal die gemeenskap en daarna die Regering die eerste reg van weiering hê, vir ingeval mense nie die lenings kan terugbetaal wat hulle op die grond uitgeneem het nie.
* Een van Landbouweekblad se verslaggewers by die beraad sê: “Dit was een van die mees chaotiese berade waar ek nog was. Logistieke probleme, soos lang toue om te registreer, het tot groot vertragings gelei. Die hele oggend moes ons deur skandeerders loop om in die groot semi-permanente markiestent te kom. Pres. Jacob Zuma se naam was op die program, maar hy het nie opgedaag nie omdat hy glo by ’n ander vergadering opgehou is.”