Die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) kan nie die land se 13 landboutrusts se geld uitdeel nie en wil dit ook nie doen nie.
Só het hooggeplaastes van die NLBR vanoggend aan verskeie trustees, lede van die media en ander belanghebbendes gesê. Die NLBR, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en al die onderskeie trusts is tans by die Birchwood-hotel in Boksburg byeen om die bydrae van Landboutrusts tot die opkomende landbou te bespreek.
Mnr. Zama Xalisa, senior bestuurder van landboutrusts by die NLBR, sê mediagerugte dat dié raad die trustfondse wil bekom, is onwaar. Dít kom ná Landbouweekblad vandeesweek berig het dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Vissery, gesê het die trusts se gesamentlike geld sal beter rente kan verdien as die afsonderlike fondse.
Wetlike vereistes
Me. Ntombi Msimang, voorsitter van die NLBR, sê die raad is wel vir jare reeds betrokke by die monitering van die trustfonds-uitgawes, omdat dit wetlik vereis word.
‘‘Dit is belangrik om te noem dat die raad nié trustgeld mag toewys nie.’’
Msimang sê dat wetlike voorskrifte nie verontagsaam mag word nie.
Xalisa sê dié vergadering was nie ’n resultaat van die mediaberigte nie. Volgens hom was die geleentheid reeds gereël voor die parlementêre bom gebars het.
8 Maart 2012