
’n Bykomende belasting op grond sal beteken dat boere dubbeld vir hulle grond belas word, wat uiteindelik voedselsekerheid in gedrang sal bring, meen Agri SA.
Hoewel Suid-Afrika reeds drie vorms van welvaartbelasting het – boedel-, skenking- en oordragbelasting – ondersoek die staat bykomende taksmoontlikhede siende dat dít net 1% tot die belastingkoffer bydra.
Die bykomende belasting wat ondersoek word, is ’n belasting op grond, ’n nasionale belasting op die waarde van ’n eiendom (dit is bo en behalwe erfbelasting) en ’n jaarlikse welvaartsbelasting gemik op ryk mense.
Beslis nie nou die tyd nie
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê dit is beslis nie nou die tyd om enige belasting in te stel wat ekonomiese groei sal beperk nie. Politieke onstabiliteit, hoë werkloosheid en afgraderings van die land se soewereine skuld tot rommelstatus, het reeds sake- en verbruikersvertroue nadelig beïnvloed en onlangse data wys dat Suid-Afrika vir die eerste keer in agt jaar in ’n resessie verval het.
Van Zyl sê hoewel dit in hierdie stadium nog nie duidelik is hoe so ’n belasting op grond bereken sal word nie, word dit in Australië bereken op ’n persentasie van die waarde van die grond wat jy besit. Die Australiërs het egter ondervind dat of die belasting nou geboue en verbeterings insluit óf uitsluit, dit elk geval ’n negatiewe impak vir die eienaar het.
Agri SA is dus bekommerd dat die voorgestelde belasting die belegging op grond sal beperk, want hoe meer grond ’n mens besit of hoe hoër die waarde van jou grond, sal jy dan meer belasting per jaar moet betaal.
Plase saamgetel vir belasting
Van Zyl verduidelik dat as jy een of meer plase besit, sal daardie plase byvoorbeeld saamgetel kan word en die belasting op die totale waarde van die plase bereken word. Dit beteken dat boere elke jaar ’n sekere persentasie van die waarde van sy grond aan belasting moet opdok, dit terwyl hulle reeds munisipale belasting betaal.
“Dit kan daartoe lei dat boere stukke grond verkoop of gedwing word om dit aan die Regering te oorhandig om die belasting op grond te vermy.”
Gevolglik sal die opbrengs op hulle belegging beduidend geraak word met laer produksie-uitsette wat voedselsekuriteit in die land ’n knou gaan gee. Verder sal dit lei tot ’n verdere verlaging in netto plaasinkomste, en werksverliese in die landbousektor.
Nadele vir die streek
Van Zyl waarsku dat indien Suid-Afrika, wat die ekonomiese enjin van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) is, voedselonsekerheid ervaar, die hele streek hierdeur geraak sal word en dat immigrasie die gevolg sal wees.
’n Belasting op grond kan daartoe lei dat ’n boerdery nie-winsgewend raak wat probleme met kontantvloei meebring.
Plaasskuld sal beduidend styg en winsgewendheid sal in gedrang gebring word wat boere sal aanspoor om eerder die meganisasieroete te volg in ’n poging om oorhoofse koste te verminder. Arbeidskoste is ’n groot bydraer tot die oorhoofse koste en werksverliese van tot 30% kan die gevolg wees.
Eina vir nuwe toetreders
Boonop sal nuwe toetreders tot die sektor die hardste getref word.
Agri SA stel voor dat die Regering hom eerder daarop toespits om die openbare sektor te rehabiliteer, die opvoedingsvlakke van die nasie te verhoog en die nodige vaardighede te ontwikkel wat in die land kortkom. Maar meer belangrik moet hy vermorsing van belastingbetalersgeld aan bande lê en korrupsie uitwis wat die fiskus uitput.