
Nog onbevestigde berigte wat die indringer herfs-kommandowurm kan wees, is uit Limpopo, Noordwes en tot in die Vrystaat ontvang
Dr. Gerhard Verdoorn, plaagbeheer-spesialis, sê hy het sedert die eerste berig Maandag (23 Januarie) heelparty oproepe van bekommerde boere ontvang. Benewens die foto’s wat hy vroeër uit die omgewing van Mokopane gekry het, het ’n suikermielieboer van Levubu hom ook laat weet van die groot wurmskade wat hy gely het.
Hy het vroeër snags gesien hoe sy suikermielie-blokke oortrek was van motte, vermoedelik van dié spesie. ’n Leser uit die Tuli-blok het intussen op landbou.com laat weet dat hy ook deurloop.
Groot skade in buurstate
Die plaag, wat sedert Desember groot skade aan oeste in Zambië, Zimbabwe en onlangs ook Malawi aanrig, is verwant aan die gebruiklike Afrika-kommandowurm.
Dit is tradisioneel vir groot verliese in Suid-Amerika verantwoordelik, maar is in 2016 die eerste keer in Wes- en Sentraal-Afrika opgemerk.
Mnr. Jan Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê hulle het nog net foto’s gesien van wat vermoedelik herfs-kommandowurms by onder meer Mokopane kan wees, en wag steeds vir wetenskaplike bevestiging.
Wil boere help
Hy doen ’n beroep op boere wat enige verdagte wurms op hul plase of in hul lande sou opmerk, om hom dadelik by 072 348 8431 of 012 319 6384 te bel. Amptelike bevestiging word deur die Landbounavorsingsraad se biosistematiek-afdeling in die Instituut vir Plantbeskerming op Roodeplaat gedoen.
Die departement staan ook reg om ’n boer te help om die doeltreffendste en omgewingvriendelikste beheerplan uit te werk, sê Venter. Hy voeg by dat dit reeds lyk asof die herfs-kommandowurm teen piretroïed-beheermiddels weerstandig mag wees.
Verdoorn waarsku ook teen die gebruik van piretroïede. Hy sê mense moenie die witjie-skoenlappers wat nou oral rondvlieg met die kommandowurm-motte verwar nie. Dié motte vlieg in die nag.
Hy kan by 082 446 8946 of nesher@tiscali.co.za gekontak word.