
Die Europese Unie (EU) se vrugte- en groente-sektore oes nog R2,3 miljard in geldhulp om produsente deur die krisis te help wat aangebring is deur die Russiese verbod op EU-invoere.
Die vakbond Copa-Cogeca sê hoewel die ekstra hulp wat deur die EU aangekondig is ’n goeie stap is, daar sterker aksie nodig is. Die nuwe hulpskema bied ondersteuning om surplusvrugte en -groente van die mark te onttrek. ’n Soortgelyke program ter waarde van R1,7 miljard is in Augustus aangekondig.
Die skema dek onder meer sitrusvrugte, appels en pere, asook wortels, komkommers, rissies, tamaties, pruime, kiwivrugte en tafeldruiwe.
Mnr. Pekka Pesonen, sekretaris-generaal van Copa-Cogeca, meen die stappe wat geneem is, is onnodig vertraag. Hy is egter bly dat die EU se kommissie ingryp om druk op die mark te verlig. “Die sektor is swaar geraak aangesien 29% van die EU se uitvoere van vrugte en groente gewoonlik na Rusland gaan,” sê hy.
Hy voeg by dat sy vakbond teleurgesteld is dat die kommissie lank geneem het om die nuwe maatreëls toe te pas. “Gedurende hierdie tyd het pryse verder gedaal, wat ons kon vermy. Dit is nou te laat vir sommige produsente. Ons doen ’n beroep op die kommissie om sy maatreëls terugwerkend toe te pas. Ons het die kommissie se hulp nodig om nuwe markte te vind en bemarking vir uitvoere ’n hupstoot te gee, en om onnodige struikelblokke vir handel te verwyder. Dit is noodsaaklik.”
Pesonen waarsku dat selfs meer ernstige stappe in Januarie vir alle vrugte en goente gaan nodig wees om te verhoed dat die hele mark ineenstort. Dít is die hoogtepunt van die seisoen in Europa en produksievolumes sal baie hoër wees.