
Die tydelike staalkonstruksie wat inderhaas opgerig is om watertoevoer aan sowat 600 plase te herstel ná 'n kanaalbreuk onder die Bulshoekdam in die Olifantsrivier-sisteem, sal in die winter met beton vervang word in 'n poging om die reeds wankelrige kanaalstelsel in stand te hou.
Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede (verantwoordelik vir toerisme, ekonomiese ontwikkeling en landbou), sê in 'n verklaring die kanaalbreuk het plaasgevind nadat die watervlakke van die kanaal te hoog geraak het en oorstromende water die grond wat die kanaalvoering ondersteun het, weggespoel het.
"Die staalkonstruksie sal tydens die jaarlikse onderhoudperiode in die winter vervang word. Die watertoevoer tot 45 000 mense en 15 0000 ha onder besproeiing is deur dié breuk ontwrig."
Die Laer Olifantsrivier Watergebruikersvereniging (LORWUA), wat volgens die Waterwet verantwoordelik is vir die instandhouding en bestuur van die infrastruktuur, het inderhaas gewerk om watertoevoer te herstel.
Instandhouding
"Die Wes-Kaapse departement van landbou is halfpad deur 'n pro-aktiewe instandhoudingsplan met 'n begroting van R4 miljoen om dié kanaalsisteem op te gradeer," sê Winde.
Volgens Winde is dele van die kanaal geidentifiseer as krities vanweë die ouderdom daarvan. Dele van dié kanaal is reeds meer as 80 jaar oud. Volgens mnr. Johan Louw, voorsitter van LORWUA, moet infrastruktuur van dié aard na 40 jaar vervang word.
Louw sê die struktuur is kwesbaar weens sy ouderdom en kan nie die druk wat daarop gesit word hanteer nie. Louw waarsku dat die breuk herhaal sal word indien die kanaal nie drasties opgegradeer word nie.
"Die drie groot wynkelders in ons streek betaal elke maand miljoene rande belasting en ons area vervul 'n belangrike rol in ekonomiese groei in die gebied maar ons sit op 'n tydbom met die dam en kanaal se probleme.
"Dit kan katastrofies wees as die kanaal erger breek want dan sny dit ons lewensaar totaal af," sê Louw.