
’n Boer, Piet van Wyk (55), van die Letsitele-gebied buite Tzaneen, Limpopo, is Vrydag op sy plaas vermoor.
Boere moet paraat wees om plaasaanvalle te keer, het mnr. Pieter Vorster, adjunkpresident van Agri SA in Limpopo, gesê, berig Leanne George van Beeld.
Volgens Vorster het hul gebied in die verlede gereeld onder plaasaanvalle deurgeloop, maar die laaste paar maande was relatief stil. “Ons vra boere om paraat te wees. Een moord is een te veel en rede tot kommer.”
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê Van Wyk is in ’n rooftog vermoor en geen verdagtes is al in hegtenis geneem nie. “DVD’s, TV’s en selfone is gesteel."
Van Wyk was alleen ten tyde van die rooftog en familielede het Saterdag op hom afgekom. Volgens dr. Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA wat ook by Tzaneen boer, het Van Wyk nie met die landbougemeenskap in die omgewing of by veiligheidstrukture ingeskakel nie.
De Jager vind dit vreemd dat dié aanval Vrydag gebeur het. “Letsitele was heeldag ’n miernes van aktiwiteite omdat ’n renoster Donderdagaand in die omgewing geskiet is en daar patrollies per helikopter en motor was.”
Bron: Beeld