’n Tweede grusame plaasaanval binne vier dae het Maandagaand (21 November 2011) in die Wes-Kaap voorgekom, sê Agri Wes-Kaap.
Dié aanval in die distrik Grabouw volg nadat mnr. Pieter Loubser, van ’n melkplaas in die distrik Malmesbury, en sy vriendin, me. Brenda van der Westhuizen, Vrydag (18 November 2011) wreed met byle aangeval is.
Me. Porchia Adams, skakelbeampte en woordvoerder vir Agri Wes-Kaap, sê ’n 59-jarige vrou is Maandag tussen 18:00 en 20:00 op ’n grusame wyse aangeval. “Sy het ernstige skietwonde opgedoen en is in ’n kritieke toestand in die hospitaal.”
Adams sê die gemeenskap is baie geskok en hoogs ontsteld oor die voorval. “Agri Wes-Kaap is geskok oor die aanval op ‘n weerlose vrou, veral so kort na die aanval op die Malmesbury-paartjie.”
Verdagtes
Volgens Adams is dit nie tans duidelik hoeveel verdagtes gesoek word nie, maar die polisie volg tans leidrade op, en meer inligting sal later beskikbaar wees.
Intussen is die drie verdagtes wat vir die aanval op Loubser en Van der Westhuizen verantwoordelik was, nog op vrye voete.
22 November 2011