’n Bejaarde vrou van Bulawayo het Dinsdag (6 Desember 2011) toegekyk terwyl besetters die laaste deel van haar plaas ingeneem het.
Luidens ’n berig in Beeld (7 Desember 2011) het besetters reeds sedert 2000 sowat driekwart van me. Rose Androliakos en haar man, Nicholas, se plaas van 10 000 ha naby Figtree ingeneem.
Die 79-jarige Androliakos en haar familie is verlede week gewaarsku dat hul plaas, Maredale, aan mnre. Maclean Bala van die Lupane-universiteit en Tabane Ndlovu, ’n grootkop by Wankey Colliery, die plaaslike steenkoolaanleg, toegeken is.
Onwettig
Mnr. Mark Androliakos, Rose se seun, sê ondanks die 2009-ooreenskoms tussen dié land se politieke partye wat besetting onwettig verklaar, ontvang sommige boere tans ’n brief wat sê die regering het die plaas aan ’n spesifieke individu toegeken.
Dié briewe, wat die stempel van die minister van landbou en grondhervorming moet dra, word dikwels deur junior amptenare uitgereik.
Tientalle plase is al sedert dié ooreenkoms beset. Die howe weier om hulle oor dié briewe uit te spreek omdat regters gewoonlik aan die ontvangkant van die Zanu-PF staan. Die MDC wil hom glo ook nie oor die besettings uitspreek nie, want hy is bang hy verloor stemme.
Interdik
Die Androliakos-gesin het Dinsdag ’n interdik teen die besetters gekry, maar volgens die koerant het besetters terselfdertyd op die plaas opgedaag en die hek se slotte met ’n byl afgekap.
’n Klein vragmotor het toe die plaas betree en van die beeste opgelaai en daarmee weggery. Androliakos bly tans by haar kinders in Bulawayo.
Bron: Beeld
7 Desember 2011