“Die nuut afgekondigde liggingsdifferensiale vir mielies het as ? groot skok vir mielieboere gekom,” sê mnr. Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA. Luidens ’n verklaring is die differensiaal vir 183 silo’s met gemiddeld 28% verhoog, terwyl die differensiaal vir individuele boere met tussen -19% (R-21 per ton) en 68% (R161 per ton) aangepas is.
Liggingsdifferensiaal het ’n regstreekse invloed op die Sagis-afgeleide prys by ? bepaalde leweringspunt. Dié prys is ’n verwysing vir pryse in die kontantmark, derhalwe het dié aanpassings ’n dramatiese invloed op die pryse wat mielieboere, veral dié boere in afgleë gebiede, vir hul mielies kan beding.
Werklike vervoerkoste
De Villiers sê gelukkig was die jongste brandstofpryse nog nie bekend toe die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) die berekeninge gedoen het nie.
In die berekeninge het die JSE gepoog om die werklike vervoerkoste, gegrond op ’n geweegde gemiddelde tussen spoor- en padvervoer, vanaf ’n bepaalde plek tot by Randfontein te bepaal. In die verlede is die vorige seisoen se differensiaal as vertrekpunt gebruik en ’n persentasie aanpassing is daarop toegepas.
R451 miljoen
Dié aanpassing gaan boere R451 miljoen meer uit die sak jaag. De Villiers sê as ’n normale vervoerinflasiesyfer as aanpassing gebruik sou word, sou ’n 11%-verhoging geregverdig kon word. “Dit sou ? gemiddelde verhoging van R16 per ton pleks van die aangekondigde R41 per ton tot gevolg gehad het.”
’n Deel van dié kostestyging kan regstreeks aan swak vervoerinfrastruktuur toegeskryf word. Dit sou gewens gewees het om graan per spoor te vervoer, want dit is 30% goedkoper as padvervoer. Kapasiteitsprobleme by Transnet veroorsaak egter dat die hoeveelheid graan wat jaarliks per spoor vervoer word, afneem.
“Dit is jammer dat die boere alleen nou vir die ondoeltreffendheid moet opdok. Dit is (ook) jammer dat die JSE besluit het om hierdie 'regstelling' in die liggingsdifferensiale eerder as een stap te doen, as om dit in te faseer,” aldus De Villiers.
7 April 2011