Regter Mpho Mamosebo het sy aansoek van die hand gewys dat die hofsitting van 8 September tot ’n latere datum uitgestel word. Die Land Bank se teenaansoek gaan onder meer in die betrokke hofsitting aangehoor word om Van der Merwe se voorgestelde sakereddingsplan as onwerkbaar te laat verklaar. Sy het ook Van der Merwe se aansoek dat die teenaansoek onreëlmatig is, van die hand gewys.
Van der Merwe het die aansoek om uitstel op 2 September gebring omdat sy advokaat nie op 8 September beskikbaar is nie. Hy is nou genoodsaak om ’n ander regsgeleerde aan te stel wat moontlik nie genoeg tyd het om voor te berei nie.
Die ingewikkelde likwidasieproses van Van der Merwe, ’n boer van Van Wyksvlei, sy trust en maatskappye wat die Land Bank meer as R80 miljoen skuld, het vroeër opspraak gemaak omdat die kurator/likwidateur se wagte wat Van der Merwe se bates moes oppas, by die verkeerde plaas opgedaag het. Van der Merwe is as individu reeds gesekwestreer, hoewel hy dit in die appèlhof wil beveg.