
Volgens mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne van Agri SA, het hulle tot einde verlede week nog geen besonderhede gekry oor waar en wanneer die vergaderings sou plaasvind nie.
Op Maandag 25 Julie het mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, egter ’n media-verklaring uitgereik waarin gemeld word die vergaderings sou op dieselfde dag begin. Die Vrystaatse vergadering het reeds dieselfde dag op Theunissen plaasgevind, en openbare vergaderings word die res van die week in die Noord- en Wes-Kaap gehou. Daar sal luidens ’n verklaring van die departement, wat ook op 25 Julie uitgereik is, eers later besluit word op ’n datum vir ’n vergadering in Limpopo. Geen melding is gemaak van enige vergaderings in ander provinsies nie. “Openbare vergaderings word in die besonder gehou in gemeenskappe in die provinsies waar skaliegas-aktiwiteit of gidsprojekte in die vooruitsig gestel word,” lui die verklaring.
Die Noord-Kaapse vergadering word op 26 Julie om 11:00 in die stadsaal op Richmond gehou. Twee vergaderings is vir die Wes-Kaap geskeduleer: Op 27 Julie om 11:00 by die JJ Ellis-sportkompleks op Laingsburg, en op 28 Julie om 10:00 by die jeugsentrum op Beaufort-Wes.
“Die openbare vergaderings volg ná die departement met interne en eksterne belanghebbendes vergader het oor die gepubliseerde skaliegas-regulasies wat ontwikkel is in ooreenstemming met artikel 38 van die Waterwet (Wet 36 van 1998). Die regulasies skryf die vereistes en prosedures voor wanneer water vir skaliegas-aktiwiteit gebruik word,” lui die verklaring.
Mistastings
Rabie sê egter een van die mistastings van die aanvanklike tegniese regulasies, wat in September verlede jaar uitgereik is, is dat dit nie voldoen het aan die wetlike voorskrif om 60 dae toe te laat vir openbare kommentaar nie, ingevolge artikel 69 van die Waterwet. Daar is slegs 30 dae gegee vir die openbare kommentaarproses.
“Die departement het nie daaraan gehoor gegee in die eerste ronde nie, en hy doen dit nou ook nie. Dit lyk asof die departement terugwerkend aan die vereistes vir openbare deelname wil voldoen sonder dat die hele proses weer van voor af behoort te begin weens die aanvanklike fout.”
Dis egter nie net die ontoereikende kommentaartyd waarteen Agri SA beswaar maak nie. Die vergaderings word ook nie wyd genoeg gehou nie. “Die regulasies gaan landwyd geld, daarom kan jy nie besluit om openbare vergaderings vir kommentaar net selektief op enkele klein dorpe te hou nie. Die konsultasies behoort so wyd moontlik te wees, dus ook in die metros,” sê Rabie.
Hidrobreking is omstrede in ’n waterskaars land soos Suid-Afrika en verskeie boere vrees dat dit hul ondergrondse waterbronne sal vernietig of besoedel. Die stryd teen skaliegas-eksplorasie en hidrobreking duur al tien jaar, maar die regering het nog nie bes gegee om die proses weer binne die raamwerk van die wet aan die gang te kry en te bestuur nie. Dit volg ná die appèlhof vroeër regulasies ter syde gestel het wat hidrobreking in die ekologies gevoelige Karoo sou bestuur.
Daar is onlangs drie verskillende stelle dokumente uitgereik vir kommentaar, waarvan die departement van water en sanitasie se voorgestelde tegniese regulasies een is. Nog twee prosesse is aan die gang, onder meer die invordering van kommentaar oor die minimum vereistes waaraan hidrobreking moet voldoen, wat op 8 Julie deur die departement van bosbou, visserye en omgewingsake gepubliseer is, asook die voorgestelde tegniese regulasies oor skalie-eksplorasie, wat ook deur dié departement op 11 Julie bekend gemaak is. Die keerdatum vir kommentaar is onderskeidelik op 22 en 25 Augustus.