
Noodweiding word nou gereël vir boere in die noordweste van Namibië waar die droogte voortduur, terwyl milde reën in baie ander gebiede verligting gebring het.
Volgens die Namibiese Landbou-unie (NLU) het veral Outjo min reën ontvang en het boere daar nie meer weiding nie. Daar is nietemin hoop dat die gebied in Maart en April verligting sal kry.
Nes vroeg in 2020 begin die NLU weer met ’n diens om weiding vir boere in nood te vind. Toe is boere in die suide bygestaan, met goeie reaksie van ander boere.
Ingevolge hierdie diens bring die NLU boere in kontak met mekaar. Enige NLU-lede in die noordweste wat onder droogte gebuk gaan en weiding soek, of ander boere wat weiding beskikbaar het, kan ’n boodskap aan me. Rina Hough by die NLU (rina@nau.com.na) stuur. Die inligting wat vereis word, is die plaasnaam en -nommer, area, die getal diere waarvoor die boer weiding soek of weiding wat hy beskikbaar het, koste wat daaraan verbonde is, naam van sy boerevereniging, en sy telefoonnommer en e-posadres. Die NLU verifieer dan die inligting waarna die boere in kontak met mekaar gebring word.
Die NLU sê die Excelsior-boerevereniging beleef die grootste probleem. Baie min boere het voldoende reën gekry. As dit in Maart reën, sal hulle meer tyd hê om oorlewingsplanne te maak. Sommige boere het al begin om droë bosse vir veevoer te maal en grasbale te koop. Daardie boere sal waarskynlik huurweiding of ander hulp soek.
Otjikondo se boere het wisselende reën ontvang, met bykans 200 mm op sommige plase en baie minder op ander. Veral die strook plase langs die teerpad vanaf Outjo na Kamanjab is baie droog. Almal hoop op opvolgreën gedurende Maart.
By Biermanskool is nog net drie aktiewe beesboere oor; verder is daar net wildplase. Hulle het meer as 100 mm gekry en hoop op nog reën.
Plase wes en suid van Kamanjab het in Februarie goeie reën gekry. Sommige boere het 100 mm aangeteken. As hulle in Maart opvolgreën kry, kan die weiding baie goed groei en behoort hulle deur die winter te kom. Plase oos van Kamanjab het egter baie minder reën gekry en al reën dit nou, sal hulle sukkel om hul diere deur die winter te kry.