Die swak instandhouding van Noord-Kaapse paaie wat belangrike ekonomiese roetes vir die landbou-, mynbou- en toerismesektor is, is genoeg rede vir ’n pleidooi dat die Suid-Afrikaanse nasionale pad-agentskap (Sanral) dié provinsiale paaie oorneem.
Só sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter Agri Noord-Kaap. Die verbetering van hierdie paaie is een van die aspekte waarop die organisasie vanjaar gaan klem lê.
“Vanweë verhoogde verkeersvolumes, waaronder swaar vragmotors van kleiner myne in die weste wat hul grondstowwe padlangs na die oostelike hawens, soos Gqeberha, vervoer, verswak die paaie. Dit verswak teen ’n baie vinnige tempo en is lewensgevaarlik vir alle padgebruikers.”