
Tog het hy hulle aangemoedig om in sekondêre bedrywe betrokke te raak om die provinsiale ekonomie te stu.
Hy het sy toespraak in Afrikaans begin. In die gehoor het mnr Mase Manopole, LUR vir landbou, langs lt.genl. Kolisa Otola, die nuwe Noord-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, gesit.
Saul het syfers van Statistieks Suid-Afrika aangehaal en gesê die landbou speel ’n deurslaggewende rol in die Noord-Kaapse ekonomie. “Dit is ’n ruggraat omdat dit werk in ’n grootliks landelike ekonomie skep en voedselsekerheid verseker. Julle maak seker ons kinders ly nie honger nie.
“Die amptelike Noord-Kaapse werkloosheidsyfer is op 23,7% die laagste in Suid-Afrika, en was vir drie kwartale van 2021 ook die laagste. Ons het selfs beter gevaar as die Wes-Kaap. Vanjaar het ons in twee kwartale ook die laagste werkloosheidsyfer gehad.
“Ongelukkig het die pandemie die landbousektor benadeel omdat sowat 14 000 werksgeleenthede in die Noord-Kaap verlore gegaan het. Die landbousektor in die provinsie bied nou 35 000 werksgeleenthede aan. Voorheen het die landboubedryf die meeste werk aan Noord-Kapenaars verskaf, maar die mynbedryf het nou daardie topposisie ingeneem. Steeds dra die landbousektor 9% van die provinsiale BBP by.
“Die provinsie se BBP het onder die sesde administrasie sedert 2019 van R98 miljard tot R122 miljard gegroei, wat natuurlik meer werksgeleenthede meegebring het. Ons moet steeds die ekonomie verbeter, wat ook beteken ons moet infrastruktuur soos paaie onderhou. Die boer moet sy produk vinnig en doeltreffend na die mark bring. Van die 26 000 km padoppervlak in die provinsie is 3 000 km teerpad, wat druk op paaie skep.”
Hy sê Transnet se beoogde projek van R13 miljard om Boegoebaai-hawe vir die uitvoermark uit te brei en die spoornetwerk te bou is bemoedigend. Dit sal maatskaplik-ekonomiese vooruitsigte verbeter. Sasol gaan ’n groen waterstof-aanleg in die spesiale ekonomiese sone in dieselfde omgewing bou. ’n Japanse bank word betrek om die nodige $10 miljard te bekom. Die nuwe spoorinfrastruktuur sal die druk op paaie verlig. Dit bring groot beleggings en groeigeleenthede waarin die landbousektor moet baat vind.
“Die mikpunte vir die landbousektor is om verlore werksgeleenthede weer te skep en meer tot die BBP by te dra. Voedselsekerheid moet ook verbeter word, maar ons moet ook ons natuurlike hulpbronne beskerm.”
Noord-Kaapse boere moet in die primêre en sekondêre bedrywe doenig raak en die ekonomie stu.
Een van sy grootste kwellings is dat Noord-Kaapse onverwerkte landbouprodukte soos gewasse en vars vleis, asook mynbouprodukte soos mangaan, koper, sink en ystererts elders verder verwerk word. “Ons moet ons eie produkte in ons provinsie verwerk en veredel. Dieselfde met ons data. Die inligting wat met die teleskope by die SKA in Carnarvon deur 32 mense versamel word, word in die Wes-Kaap deur 200 wetenskaplikes geanaliseer en verwerk.
“Alle sektore moet betrokke raak in die sekondêre ekonomiese aktiwiteite om die ekonomie en volhoubare werksgeleenthede skep.
“Ons moet ons Karoo-lam in ons provinsie slag, verwerk en verpak, terwyl slaghuise in ons provinsie hul deure sluit. Aartappelboere moet selfs skyfies produseer,” het Saul gesê.