Groot dankbaarheid heers nadat Agri Noord-Kaap in kennis gestel is dat ramphulp van R132 miljoen vir vloedskade beskikbaar gestel is.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder, sê hulle vergader volgende week om die fynere besonderhede van die uitbetalings te bepaal, aangesien ’n gedetaileerde uitbetalingsproses gevolg moet word.
“Al wat ons tans weet, is dat dié bedrag voor Maart aanstaande jaar uitbetaal moet wees. Ons is wel baie bly dat iets op die tafel is, want ons het in ’n stadium gedink dat ons niks gaan kry nie,” vertel Van Rensburg.
Dié geld is toegeken nadat verwoestende vloede aan die einde van verlede jaar en in Januarie en Februarie vanjaar boere langs dieOranjerivier getref het.
Uitkoms vir die Langkloof
Mnr. André de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê hulle is ook baie dankbaar vir die goeie nuus wat dié boere gekry het. Agri SA het die vereniging ingelig dat hulle ook in aanmerking kom vir die IDC (voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie) se vloedleningskema – van 3,5% rente op lenings vir vanjaar en aanstaande jaar.
De Wit het gevra dat dié boere ook daarvoor in aanmerking moet kom, aangesien hulle sedert erge vloede in 2007 nog niks van die ramphulpfondse wat aan hulle toegeken is, ontvang het nie.
Wat dié geld betref, wag hulle op die terugvoering van ’n algemene verslag van Agri SA oor verskeie vloede en natuurrampe wat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aan die kabinet moet voorlê.
Groot oes
Intussen is De Wit baie opgewonde oor die groot oes wat dié oestyd vir die vallei verwag word. “Ek was verlede week by ’n bemarkingsvergadering en dit lyk of ons oes beter is as dié van die ouens in die Wes-Kaap, wat vir ons vanjaar beter bemarkingsgeleenthede beteken.”
Ná baie jare van swaar trek in dié vallei, lyk dit asof vanjaar se oes vir die boere ’n uitkoms kan bied. De Wit sê vroeë perske-oeste sal oor twee weke begin inkom, terwyl die groot oes vir ál die vrugte in die middel van Januarie aanstaande jaar sal plaasvind.
“Ons is so dankbaar. Dit is asof daar vanjaar ’n algehele 'revamp' in die natuur was, alles is net mooi!” vertel De Wit.
16 November 2011