
Pas nadat een gedeelte van die R31 tussen Koopmansfontein en Middelpos ná gedeeltelike herstelwerk vir verkeer oopgestel is, is ’n ander gedeelte tussen Barkly-Wes en Kimberley weens reënskade gesluit.
Die sluiting beteken dat ’n mens tussen Barkly-Wes en Kimberley nou Windsorton om moet ry. Benewens die ompad, is net een rybaan by die oopgestelde deel tussen Koopmansfontein en Middelpos oop en ’n stop-en-rybeheerstelsel geld. Motoriste moet daarom nóg bykomende reistyd inreken.
Die R31, ’n belangrike ekonomiese roete vir die landbou-, mynbou- en toerismesektore, gaan mettertyd aan Sanral oorgedra word.
Me. Crystal Robertson, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke, sê die padgedeelte is vroeër vandag weens vloede gesluit. Die departement se padwerke om die padgedeelte met 1,5 m te lig, het weens die oorspoeling tot stilstand gekom.
Op die betrokke gedeelte word die pad bedreig deur ’n reuse-riooldam wat aan weerskante opdam. Die rioolwater lek reeds jare uit gebreekte pompe en die riool- en varswaterpypnetwerk van die Sol Plaatje-munisipaliteit.
“Ons span het gister die watervlak dopgehou en gesien hoe dit binne ure teen Sondagaand met 200 mm gestyg het. Motoriste word aangeraai om die MR913-roete na Windsorton, wat by die N12- aansluit, as ompad te gebruik,” sê sy.
Die jongste sluiting kom nadat ’n ander gedeelte van die R31 tussen Daniëlskuil en Middelpos gedeeltelik herstel is nadat dit einde Maart vir twee weke gesluit was om bestaande slaggate en reënskade aan die padoppervlak te herstel.
Aanhoudende reën het langs die pad opgedam en gedeeltes verspoel wat dit onbegaanbaar gemaak het.Volgens Robertson wou hulle die herstelde padgedeelte tussen Daniëlskuil en Middelpos vroeër oopstel nadat die herstelwerk gedoen is, maar aanhoudende reën het hulle gekortwiek. Die opgedamde reënwater word intussen weggepomp.
“Die padgedeelte is op 12 April weer oopgemaak, hoewel net een baan gebruik kan word en ’n stop-en-ry-beheerstelsel in werking is Die kontrakteurs sal later, sodra ons die vereiste permit bekom, rotse wegskiet sodat reënwater wat die pad verspoel na ’n nabygeleë waterstroom gelei word. Telkom moet ook betrek word omdat daar telefoonlyne op die betrokke gedeelte is. Dié gedeelte is nie naby die rybaan nie. Ons pomp die water nou na die waterstroom totdat ons die permit bekom om te kan skiet.”
Rioolprobleem kry aandag op hoë vlak
Intussen sê me. Delmaine Christians, DA-LP, dat hul pleidooie oor die gedeelte van die pad wat deur die riooldam bedreig en waar padwerke gedoen word, vrugte afgewerp het.
“Ons volgehoue druk op die nasionale en provinsiale regering het die adjunk-president (mnr. David Mabuza) genoop om aandag aan probleem te gee. Die provinsiale uitvoerende raad het ’n interdepartementele komitee saamgestel, onder voorsitterskap van die LUR'e vir paaie en openbare werke asook vervoer en veiligheidskakeling om die hoofoorsake van die rioolstorting in die omliggende Platfontein-gebied te ondersoek. Hulle moet die omvang van die skade vasstel en ’n kosteberekeningsplan indien met aanbevelings oor hoe die probleem opgelos moet word. Hulle moet ook met die departement van water en sanitasie saamwerk.
“Ons hoop die onderneming deur die interministeriële komitee oor water en sanitasie, onder voorsitterskap van die adjunk-president, gaan verseker dat dié langdurige probleem opgelos word.”
Sy sê die rioollekkasie is in 2016 aangemeld “toe dit nog net ’n klein poel en nie eens van die pad af sigbaar was nie. Destyds is gesê die water vloei uit die Gogga-pompstasie wat buite werking was. Dit is ses jaar later en die water het tot weerskante van die pad opgedam. Dit het gebeur ondanks die strafregtelike klagte wat teen die munisipale bestuurder aanhangig gemaak is, ’n ondersoek deur die Groen Skerpioene en die talle beloftes deur die Sol Plaatje-munisipaliteit en die provinsiale regering.
“Die riooldam is ’n gesondheidsgevaar wat die inwoners van Platfontein bedreig. Die geleidelike ineenstorting van padinfrastruktuur sal die ekonomie duur te staan kom. Die riool is ook ’n risiko vir motoriste, waarvan sommige reeds ná ongelukke in die water beland het. Die DA sal die R31 aanhou moniteer totdat die rioolwater opgedroog het,” sê sy.